CrimeHard newsNewsNews

Johan Heunis sal in November gevonnis word

Me. Michelle Curgenven (36) is in 2013 in haar motorhuis doodgeskiet.

MBOMBELA – Johan Heunis (58), ‘n verkeersbeampte by die plaaslike munisipaliteit wat aan strafbare manslag skuldig bevind is, sal op 23 November sy lot aanhoor.

Laevelder het destyds berig dat Heunis aangekla is van me. Michelle Curgenven se moord op 4 Julie 2013. Dié 36-jarige ma van twee het as administratiewe assistent by die munisipaliteit gewerk, waar Heunis een van haar seniors was.

Hy is op die toneel in hegtenis geneem waar Curgenven se liggaam in haar motorhuis in Steiltes se Tussenberge-kompleks aangetref is.

Hy is op borg van R20 000 vrygelaat en sy verhoor het in November verlede jaar in die Rondgaande Hoë Hof begin.

Heunis het op ‘n klag van strafbare manslag skuld beken. Sy regsverteenwoordiger, adv. Piet Pistorius, het sy kliënt se weergawe van wat daardie dag gebeur het in ‘n pleitverduideliking voorgehou. Hiervolgens wou Heunis selfdood pleeg. Hy het sy dienspistool onder sy ken gehou. Curgenven het dit onder sy ken probeer wegneem en is sodoende per ongeluk deur ‘n geweerskoot getref.

Heunis het in ‘n toestand van skok verval nadat Curgenven doodgeskiet is. Hy het ure later wakker geword waar hy op die kombuisvloer gelê het. Agt pynpille het sy kloppende hoofpyn probeer stil, waarna hy rum en tequila in Curgenven se kroeg gedrink het. Die eerste persoon met wie Heunis kontak gemaak het, was mnr. Eddie Prolius, Mbombela se verkeershoof.

Prolius het in 2014 getuig dat Heunis hom geskakel het met die stelling: “Chief, ek het groot k*k aangejaag en ek is jammer.” Prolius het aangeneem dat die beskuldigde by Curgenven se huis was en het omstreeks 21:30 daar opgedaag. Heunis, wat aanvanklik vir niemand toegang tot die huis wou gee nie, het telkens die pistool teen sy ken gedruk en gedreig om sy eie lewe te neem.

Kapt. Christian Mangena is ‘n ballistiese kenner wat ook in Oscar Pistorius se verhoor getuig het. Hy het getuienis teen Heunis se weergawe gelewer. Volgens sy ballistiese verslag, het Curgenven voor haar gekyk toe sy geskiet is. Sy was dus nie na sy kant toe gedraai toe die skoot afgetrek is nie. Haar linkerarm – wat sy in daardie geval sou gebruik het om die dienspistool onder Heunis se ken weg te druk – was plat teen haar lyf toe sy geskiet is.  Landdros mnr. Peter Mabuse het in April vanjaar ten gunste van Heunis se weergawe beslis.

Hy is aan strafbare manslag skuldig bevind. Heunis het Donderdag weer in die Rondgaande Hof verskyn waar die saak tot 23 November vir vonnisoplegging uitgestel is. “Regter Mabuse het verduidelik dat hy eers regspraak moet raadpleeg voordat die vonnis opgelê kan word,” het me. Sharon Joubert, ‘n familievriendin, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button