Local newsLocal sportNewsNewsSport

Plaaslike ryer se span haal die podium by GS Trophy

Rika de Bruyn was deel van die KZN provinsiale span wat die naweek teen ander streke meegeding het by Drankensville.

MBOMBELA – Die teleurstelling om nie vir die vrouespan se uitdunne genooi te word nie, is die afgelope naweek vir ‘n plaaslike motorfietsgeesdriftige besweer toe haar span ‘n derde plek by die provinsiale BMW GS Trophy-kompetisie verwerf het.

Rika de Bruyn van Mbombela was die enigste vrou wat in een van die tradisionele mansspanne ingesluit is toe sy onlangs tot KwaZulu-Natal se span verkies is.

Dié motorfietsryers het vanaf Donderdag tot Sondag by Drakensville in KwaZulu-Natal in spanverband teen ander provinsies meegeding en algeheel derde geëindig.

Dit was ‘n kortkoppie agter die Wes-Kaap en Binneland-spanne waaruit die drie mans verkies is om Suid-Afrika aanstaande jaar by die internasionale GS

Trophy-kampioenskap in Thailand te verteenwoordig. Die SA BMW GS Trophy-span is John Harris van Binneland saam met Charl Moolman en Byron Coetsee van die Wes-Kaap.

Meer as 800 BMW-geesdriftiges het die kompetisie oor die naweek bygewoon. De Bruyn sê dit was groot pret, vir die deelnemers sowel as vir die toeskouers.

“Alles was in spanverband, so dit was baie makliker as die nasionale proewe waar die hindernisse baie moeiliker was en niemand jou kon help nie. Hier was dit meer strategies en dit was nie nodig om fisiese hulp te kry nie. Dit was soos gimkanahindernisse, en baie van die uitdagings het net een fiets geverg.”

Hierdie vernuftoetse het oor twee dae gebeur na die georganiseerde roetes in die Drakensberge, waaraan die publiek ook kon deelneem.

“KZN het veral ‘n goeie gees gehad. En toe ons die laaste uitdaging wen, toe voel dit vir my asof ons ‘n plek het.”

Die laaste uitdaging het behels dat twee spanne se ryers mekaar in ‘n sirkelroete om bakens jaag. Sou ‘n deelnemer ‘n baken omstamp of ‘n lyn raak, of ‘n ryer ‘n opponent inhaal, is die hele span gediskwalifiseer.

Saam met haar spanmaats Mark Havemann en Clayton Scott kon hulle eers vir Namibië wen, toe vir Gauteng 1 en in die finale die Binnelandspan.

“Ons strategie om nie foute te maak nie, het gewerk,” sê sy en voeg by dat Harris haar nie kon “vang” nie.

Die 10 vroue wat genooi is om vir die internasionale vrouespan te kwalifiseer en wat ook volgende jaar in Thailand gaan deelneem, was ook daar, voor hulle na Country Trax in Amersfoort vertrek het.

Teen druktyd was hulle nog besig om mee te ding vir die eerste drie plekke om die BMW GS Trophy-vrouespan te haal.

Dit was oefenpogings om by hierdie span ingesluit te word, wat tot De Bruyn se insluiting in die “mannespan” gelei het. Sy sê sy sal oor twee jaar moontlik weer probeer om vir die vrouespan te kwalifiseer.

“Hierdie interprovinsiale byeenkoms se derde plek was ‘n hoogtepunt vir my, hoewel ek teleurgesteld is dat ek nie deel is van die GS Trophy-span na Thailand nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button