Vrou val vier meter tydens struweling
'n Bejaarde vrou is Vrydag om 21:30 tydens 'n gewapende roof in haar huis in Pofadderstraat aangeval.
MARLOTH PARK – Volgens Securicon was sy alleen by die huis toe sy deur ‘n gewapende man verras is. Sy was glo buite op haar balkon toe hy haar beveel om die huis binne te gaan, waar ‘n struweling plaasgevind het. Sy is in die proses oor die balkon gegooi en het vier meter ver geval. Die rower het ‘n selfoon, skootrekenaar en haar handsak gebuit voor hy op vlug geslaan het.
Die vrou het haar paniekknoppie gedruk en beamptes van Securicon was binne minute daar. Hulle, sowel as die Vambo-spoorsnyspan het die verdagte se spoor gevolg, maar kon hom nie vind nie. Paramedici het haar gestabiliseer en sy is per ambulans na die hospitaal vervoer. Sy sterk tans glo in ‘n hospitaal in Pretoria aan weens die kritieke aard van haar beserings, en sal vir ongeveer nog ses weke daar wees.
Alhoewel die vrou slegs een verdagte gesien het, is daar tydens die ondersoek bevestig dat twee mense betrokke was. Hulle het na bewering by die westelike plaasdraad by Marlothpark ingekom en is glo weer daar uit. Securicon het ‘n versoek aan alle kliënte gestuur om hulle deure en vensters gesluit te hou en te alle tye hul paniekknoppies byderhand te hou.
