MBOMBELA – ‘n Sakeman (41) van eMalahleni is Maandagaand dood nadat hy op die R37-Sabie/Lydenburgpad beheer oor sy bakkie verloor het.
Mnr. Tokkie Botha was omstreeks 18:45 in sy Toyota Dakar in Sabie se rigting onderweg toe die ongeluk sowat 10 kilometer buite Mbombela gebeur het.
Merke op die pad toon dat Botha vermoedelik op ‘n skerp draai na links die remme aangeslaan en toe beheer oor die bakkie verloor het.
Lees ook: Matriek in ongeluk beseer na afskeid
Dit het vermoedelik na regs oor die pad gegly waarna Botha moontlik probeer het om die voertuig na links terug te stuur voordat dit omgeslaan het.
Nooddienste is na die toneel ontbied. Botha is met paramedici se aankoms op die toneel, dood verklaar. Hy het ooglopend ernstige kopbeserings opgedoen.
Lees ook: Opvolg na ongeluk in Ferreirastraat: ouers gesels oor hul hartseer
Die oorledene se pa, mnr. Taylor Botha, het by navraag gesê dat sy seun onlangs ‘n onderneming begin het om grasdakke te bespuit. “Hy was in die Laeveld vir sake en het verskeie afsprake gehad om sy onderneming te bemark. Hy sou Maandagaand in Marlothpark oornag het.” Hy laat ook ‘n vrou en twee kinders van onderskeidelik twee en vyf jaar, agter.
Kapt. Dawie Pretorius, plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n klag van strafbare manslag ondersoek word.
