Foto: Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit.
MBOMBELA – Flink optrede deur twee plaaslike sekuriteitsmaatskappye sowel as die polisie, het Woensdag tot die redding van ‘n vrou gelei nadat sy na wat verneem is vir etlike ure in ‘n kamer toegesluit en deur haar kêrel op ‘n plaas in die Hermansburg-omgewing aangerand is.
Soos in baie ander gevalle van huishoudelike geweld, gaan hierdie oortreder heel waarskynlik skotvry daarvan afkom omdat die klaer weier om ‘n saak te maak.
Volgens Mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het een van hul kliënte – ‘n vrou wat by Hermansburg woon, haar paniekknoppie gedruk. Met beamptes se aankoms op die toneel, het hulle ‘n man met ‘n mes gevind wat dié vrou glo gedreig het.
Die kliënt, wat uit vrees vir haar en haar man se veiligheid, anoniem wou bly, het aan Laevelder gesê dat hulle reeds vroeg daardie oggend onrustig was omdat hulle huishulp nie vir werk opgedaag het nie.
Hi-Tech se beamptes het die man gevra waar hy bly en hy het hulle soontoe geneem. Hy het aanvanklik geweier om sy huis oop te sluit, maar dit wel later gedoen.
“Die betrokke huishulp, duidelik aangerand en beseer, is binne die huis gekry,” het Grobler gesê. Volgens Mnr. Hennie Visser van Bossies Community Justice, wat ook op die toneel was, is die mes wat by die man gevind is, aan die polisie oorhandig.

Die inwoner van Hermansburg het egter ontken dat die verdagte ooit op haar perseel was. Sy het gesê dat sy wel deur die loop van die dag ‘n oproep van die huishulp ontvang het. Dié het haar gevra om die polisie te ontbied. “Ek het toe maar later vir Hi-Tech ontbied omdat die polisie nooit opgedaag het nie.”
Alhoewel kapt. Dawie Pretorius, plaaslike polisiewoordvoerder, die voorval bevestig het, het hy gesê dat hy nie bewus is van ‘n mes wat as bewysstuk ingedien is nie.
Volgens Pretorius is die verdagte na die polisiestasie vir ondervraging geneem, maar het die klaer besluit om nie ‘n saak te maak nie. “Die klaer het wel ‘n verslag van gesinsgeweld by die stasie voltooi en sou vandag (Donderdag) ‘n beskermingsbevel by die hof verkry.”
Pretorius het gesê dat, hoewel die vrou aangerand is, sy nie ernstig beseer is nie.
Die inwoner van Hermansburg het aan Laevelder gesê dat die man ‘n “totale vreemdeling” was en dat hulle nou vir hul veiligheid op die plaas vrees. Die man is glo van Swaziland afkomstig. Pretorius het op navraag egter bevestig dat hy ten tyde van die voorval wel wettig in die land was.
