Erfenis gevier deur ander te help
KOMATIPOORT – In hierdie dorp word daar saamgewerk. Die gemeenskap het al deur die jare geleer dat ‘n mens mekaar nodig het en dat daar ‘n groter verskil gemaak kan word indien daar kameraadskap en eenheid is. Die plaaslike Voortrekkerbeweging en Solidariteit Helpende Hand het saamgespan om die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se Erfenismaandprojek te ondersteun. …

KOMATIPOORT – In hierdie dorp word daar saamgewerk. Die gemeenskap het al deur die jare geleer dat ‘n mens mekaar nodig het en dat daar ‘n groter verskil gemaak kan word indien daar kameraadskap en eenheid is. Die plaaslike Voortrekkerbeweging en Solidariteit Helpende Hand het saamgespan om die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se Erfenismaandprojek te ondersteun. Die tema vanjaar is gestremdheid. Op haar beurt het Charmaine Botha, maatskaplike werker by CMR, ‘n gedagte wat in haar hart onstaan het, tot aksie gebring. Sy het besluit om die twee organisasies te nader om saam iets te doen in die gemeenskap ter ere van Erfenisdag en daar is besluit om saam bloed te skenk. Verteenwoordigers van die verskillende organisasies het bymekaargekom en die kreatiwiteit het omtrent gevloei. Hoe koppel jy bloedskenk, erfenisviering en gestremdheid in ‘n slagspreuk of in een woord? Die volgende begrippe is gebore: “Regenerasie” – omdat dit betrokke is by al drie woorde. Daar is egter besluit op “Voetspore.” Voetspore na die verlede bring ons by “erfenis” uit. Voetspore word ook getrap vir ander deur voete wat na die bloedbank lei deur bloed te skenk. Gestremde mense laat nie noodwendig voetspore met hul voete nie, maar wel met hul menswees. Die geleentheid het op 15 September plaasgevind in die personeelkamer van Komatipoort Akademie. Heelwat leerders van die skool het ook hul deel gedoen en geskenk. Diegene wat nie kon skenk nie, was wel daar vir ondersteuning vir die dapperes wat wel deelgeneem het.
