Wilddiewe hul lêplek kwyt na veiligheidsbeamptes toeslaan
MARLOTHPARK – ‘n Plaaslike veiligheidsonderneming wat ook heelwat werk in die dorp doen, het wilddiewe onlangs ‘n groot slag toegedien toe daar op ‘n skuiling van vermeende stropers toegeslaan is. WA en Genote Sekuriteit het vroeër vandeesmaand die lêplek op ‘n plaas suid van die N4 ontdek en opgeruim. Dit volg nadat beamptes die plaas al vir …

MARLOTHPARK – ‘n Plaaslike veiligheidsonderneming wat ook heelwat werk in die dorp doen, het wilddiewe onlangs ‘n groot slag toegedien toe daar op ‘n skuiling van vermeende stropers toegeslaan is. WA en Genote Sekuriteit het vroeër vandeesmaand die lêplek op ‘n plaas suid van die N4 ontdek en opgeruim. Dit volg nadat beamptes die plaas al vir ‘n geruime tyd saans met gesofistikeerde nagsigtoerusting dopgehou het. Die deurbraak is Sondag deur die vennote, mnre. Willie en Wimpie van Zijl en hul bedrewe patrolliespan gemaak. Die struktuur van houtpalette en kamoeflering is tydens ‘n voetpatrollie opgespoor. Talle hulpmiddels soos vragmotorligte wat aan batterye gekoppel en in bome aangebring is, is op die toneel gevind en tot niet gemaak. “Geen arrestasies is gemaak nie, maar genoeg bewyse is teen verskeie moontlike verdagtes gevind,” sê Willie. Gedurende ons korrespondent se onderhoud met Van Zijl het hy aangedui hoe elke afsonderlike strik die “handtekening” van die maker is en dat mens met goeie inligting later weet wie waar betrokke is en was.



