SKUKUZA – Twee sekuriteitsbeamptes wat van Sabi Sands onderweg was om geld te gaan bank, is deur gewapende rowers gewond wat hulle voorgelê het.
Die voorval het Woensdag omstreeks 10:15 gebeur. AO. Oubaas Coetzer, woordvoerder van die polisie in Skukuza, het vertel dat die mans op pad was om geld van drie lodges binne Sabi Sands by die FNB-tak op Skukuza te gaan inbetaal.
Hulle was onderweg met die grondpad vanaf Sabi Sands na die aansluiting met die teerpad wat na die Paul Kruger-hek van die Nasionale Krugerwildtuin lei. Hier is hulle deur drie gewapende mans ingewag. Daar is meteens met ‘n haelgeweer op hulle losgebrand.

Die bestuurder het kopgehou en na die wildtuin se hek gejaag en alarm gemaak. Hy het ‘n ligte besering opgedoen en sy kollega het skrapnel in sy been gekry. Verskeie besoekers en toergidse was op daardie stadium na die wildtuin onderweg, maar niemand anders is gewond nie.
Die polisie is ontbied en ‘n soektog is na die verdagtes van stapel gestuur. Die sekuriteitsbeamptes is na Matikwane Hospitaal vir behandeling geneem.
Coetzer het bevestig dat klagtes van poging tot moord en roof ondersoek word.
