Editor's choiceLocal newsNewsNews

Soutvleis storie krap meer as net ‘n maag om

Inwoners meen dat mediapublikasies die meeste van die feite verdraai het en dat geen moeite gedoen is om inligting by die Plaashuis oor die aangeleentheid te verkry nie

BURGERSFORT – Nadat inwoners berigte oor Armand Hofmeyr gelees het wat Sondagmiddag vir spoed aangekeer is nadat hy vanaf hierdie dorp gery het, en daarna ‘n maagkwaal wat hy hier opgedoen het, die skuld vir sy spoedoortreding gegee het, was hulle onthuts.

Inwoners meen dat mediapublikasies die meeste van die feite verdraai het en dat geen moeite gedoen is om inligting by die Plaashuis oor die aangeleentheid te verkry nie.

Hofmeyr is Sondag op die N4-snelweg naby Bronkhorstspruit voorgekeer nadat hy 185km/h in ‘n 120km/h sone gejaag het.

Daarna het hy aan Maroela Media vertel dat hy diarree gehad het en daarom gejaag het.

Die volgende is deur Maroela Media gepubliseer: “Volgens hom het hy Saterdagaand ‘n optrede in Buffelspoort (wes van Pretoria) gehad waar sy aandete uit soutvleis en kaassous bestaan het.

“Dit het glo gemaak dat hy en sy klankman Sondag van vulstasie tot vulstasie gery het om die nood te verlig”.

Me. Judy Winterbach, eienaar van die Plaashuis vertel dat sy glad nie vererg is oor die aanlynberigte nie, maar dat die media haar kant van die storie ook moes weergee.

“Armand het Vrydagaand ‘n treffende optrede gelewer en Saterdag ingestem om weer op te tree aangesien hy nie ander besprekings gehad het nie.

“Ons het gebraai en gesellig gekuier terwyl hy weer die verhoog betree het. Later die aand het hy self by ‘n vulstasie die soutvleis en kaassous gekoop om te eet. Daai konkoksie van hom het geensins betrekking met die Plaashuis se spyskaart nie.

“Ons restaurant bedien slegs kos van goeie gehalte en hoë standaarde,” vertel Winterbach.

“Ek was werklik beïndruk met Armand se optredes die naweek en gaan hom sommer binnekort weer Plaashuis toe nooi.

“Ek meen hier doen ons altyd alles groter en beter daarom kry ek altyd bekende kunstenaars om op te tree.

“As ek Armand voedselvergiftiging sou wou laat opdoen, sou ek darem iets meer oorspronklik as soutvleis gekies het,” vertel sy lag-lag.

Hofmeyr het later na die aanlynberigte die volgende op Facebook geplaas: “Hahaha die media het nou nie veel om te doen nie.

“Thanks aan die Plaashuis vir ‘n lekker show wat in Burgersfort was, nie in Buffelspoort nie”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button