Stad se geldkoffers weer vol danksy Innibos
Volgens die navorsers bly 65% van die geld wat tydens Innibos bestee is, in die omgewing en word op R10,9 miljoen bereken
MBOMBELA – Die stad het weer ‘n enorme ekonomiese hupstoot ontvang danksy Innibos. Hoewel die geldelike strop al nouer om verbruikers se nekke trek, het hulle nie geskroom om die beursies uit te haal en te kóóp tydens hierdie jaar se fees nie.
Sowat R101 miljoen is bestee, ongeveer R34 miljoen méér as verlede jaar. Dit word toegeskryf aan ‘n toename in die getal feesgangers asook die hoeveelheid wat hulle uitgegee het. Dié bevindings is onlangs bekend gemaak ná ‘n studie deur die Noordwes-Universiteit se fakulteit van ekonomiese- en bestuurswetenskappe.
Hoewel die navorsing ‘n effense afname in besoekers toon, meen navorsers dat Innibos hom nie veel hieraan hoef te steur nie, omdat hulle ‘n nuwe, meer betroubare metode gebruik het om dié getal te bepaal en dat dit grootliks met vorige jare se bevindings ooreenstem.
Hoewel daar heelwat minder kaartjies vir vertonings verkoop is, is meer vir die feesterrein verkoop. Die aantal kaartjies vir verkope was hierdie jaar 13 356. Verlede jaar was dit 18 491 en in 2013, 18 891. Vanjaar is 67 117 kaartjies vir die terrein verkoop en 52 052 in 2014.
Vorige jare is daar aangeneem dat die getal feesgangers bereken kon word deur bloot te kyk na die hoeveelheid toegangskaartjies wat verkoop is. Hierdie aanname het egter beteken dat ‘n besoeker slegs een kaartjie vir een dag van die fees gekoop het. Hierdie jaar het navorsers feesgangers gevra vir watter dae hulle kaartjies gekoop het en
50 persent van die deelnemers het aangedui dat hulle kaartjies vir twee dae gekoop het. Hierdie faktor is in ag geneem en die absolute getal is dus op 49 585 bereken.
Lees ook: Twaalf jaar van Innibos in oorsig: Groei is rede om fees te vier
‘n Besoekersdag verwys na elke dag wat feesgangers daar deurgebring het. Sou ‘n persoon byvoorbeeld vir drie dae Innibos toe gaan, het navorsers hom/haar drie keer getel. Die dae is dus bereken deur die absolute getal besoekers te vermenigvuldig met die gemiddelde aantal dae wat by die fees deurgebring is. Die navorsing het getoon dat feesgangers gemiddeld 2,61 dae daar was en daarom word die getal besoekersdae op 129 417 berek
Lees ook: Doemprofete verkeerd bewys deur Innibos se goeie bywoningsyfer
Die aantal groepe (gesinne of vriende wat die fees bygewoon het), was vanjaar sowat 22 539. In 2014 was dit 19 568 en in 2013, 20 309. Die beraamde hoeveelheid wat elke groep daar gespandeer het, is R4 510.49. Dit sluit toegangsfooie, verblyf, vervoer en kos in. Verlede jaar is R3 481,16 bestee en R3 084,30 in 2013.
‘n Belangrike faktor wat navorsers in ag geneem het om die ekonomiese inspuiting in Mbombela te bepaal, is dat nie alle stalletjiehouers van die Laeveld afkomstig is nie. Volgens die navorsers bly 65% van die geld wat tydens Innibos bestee is, in die omgewing en word op R10,9 miljoen bereken.
