Ontduiking van tolhek ontlok bekgeveg
'n Boer en 'n plaaslike veiligheidsmaatskappy word op sosiale media van rassisme beskuldig en dat daar 'n vuurwapen op die twee vroue gerig is.

MALALANE – ‘n Klaarblyklike poging om die tolhek op die pad tussen Kaapmuiden en die dorp mis te ry, het Sondag op ‘n stortvloed beskuldigings uitgeloop. ‘n Boer en ‘n plaaslike veiligheidsmaatskappy word op sosiale media van rassisme beskuldig en dat daar ‘n vuurwapen op die twee vroue gerig is.
Een van die vroue, me. Magdel van den Berg, ‘n student in Mbombela wat in hierdie dorp bekend is, het Sondag op die Facebook-groep, Hectorspruit, Malalane and Surrounds, beswaar gemaak oor die optrede van ‘n wageenheid van Securicon. Die grondeienaar wie se plaas hulle na bewering onwettig betree het, het ook deurgeloop.
Van den Berg was ook vroeër aan Corridor Gazette verbonde, maar studeer vanjaar plantteelkunde aan die Universiteit van Mpumalanga. “My girlfriend and I were just held at gunpoint by an unknown guy who has a serious problem with white people, in front of four Securicon guards, who stood laughing when my girlfriend ducked to cover her face in fear. I wedged myself between her and the gun in our car. I have never experienced such poor and unprofessional behaviour from any service provider. It is obvious that Securicon has unprofessional and racist guards. I am appalled and I feel so sad for my girlfriend who does not know weapons and thought she was going to be killed.”
Mnr. Fortune Sibiya, een van die vier eienaars van Siyathuthuka Plaas, ontken dat hy enigsins ‘n vuurwapen te voorskyn gebring het. Hy sê hy besit nie eens een nie. Met sulke bewerings vind hy dit ook vreemd dat daar tot dusver geen klagte by die polisie gelê is nie.
Die plaas strek aan weerskante van die tolhek. Party motoriste wat hierdie wêreld ken, kies soms koers oor die plaas. Die dienste van Securicon is onlangs ingespan om sulke onwettige betreding te bekamp.
Mnr. Gerhard Coetzer, direkteur van Securicon, sê hy het kort na die voorval bekend geword het, ondersoek ingestel. Wat gebeur het, volgens hom, is die volgende: Van Den Berg met nog ‘n passasier het Sondag omstreeks 12:45 by die toegangsbeheerpunt op die plaas aangekom. Dis op ‘n private gruispad langs die tolhek. Op die gegewe tydstip was daar twee Securicon-wagte aan diens met twee toesighouers op besoek. Van den Berg het aangedring dat die hek oopgemaak word maar kon geen permit of enige bewystoestemming toon nie. Die wagte het aanbeveel dat sy liewer terugbeweeg en deur die tolhek verder gaan. Haar verweer was dat sy ‘n student is en nie die uitgawe kon bekostig nie.
Die argument het sowat 30 minute geduur. Volgens Coetzer het sy die wagte van rassisme en moedswilligeid beskuldig.
Toe Sibiya op die toneel verskyn, moes hulle haar mooi vra om haar motor voor die hek te verwyder sodat hy kon ingaan. Met die oopmaak van die hek het sy egter weer vorentoe beweeg en Sibiya vinnig na binne gevolg. Dit is toe dat hy uitgeklim en haar gekonfronteer het. Eers hierna het sy agteruitgery. Met die wegry het sy die wagte gewaarsku dat sy hulle sal wys.
Coetzer sê sy wagte het bevestig dat hulle op geen stadium ‘n vuurwapen gesien het nie. Sou die lewe van enigiemand op enige stadium in gevaar verkeer het, sou hulle opgetree het. Dis ook nie waar dat hulle haar uitgelag het nie.
Coetzer het ook op Facebook gereageer en Van der Berg sonder sukses gevra om met hom in verbinding te tree. Herhaalde pogings van Corridor Gazette om met haar oor die voorval te praat, het ook misluk.
Coetzer sê hy doen al 10 jaar lank sake in die Onderberg en sy dienste word wyd vertrou. Dis ‘n gevestigde professionele veilgheids- en risikobestuursonderneming. Hy glo hierdie was ‘n blatante poging om sy goeie reputasie te skaad. Hy nooi die publiek om hom te alle tye by 082-561-7473 te skakel, sou Securicom se dienste blyk nie om op standaard te wees nie.
Hy sê motoriste wat plaas- en private agterpaaie gebuik om die Nkomazi-tolhek uit te skakel, bly egter ‘n groot probleem.
Sien ook: Alleged assault at Nkomazi Toll Gate
