CrimeHard newsNewsNews

Man op waarskuwing vrygelaat ná seksuele klag

Die saak teen hom is uitgestel omdat die polisie dit nog ondersoek.

MBOMBELA – Daar heers groot kommer nadat ‘n man wat van ‘n seksuele misdryf aangekla word, bloot op waarskuwing vrygelaat is.

Die man, wat nie geïdentifiseer mag word voordat hy op die aanklagte teen hom gepleit het nie, word van seksuele aanranding, huisbraak, crimen injuria en intimidasie aangekla. Hy het verlede Dinsdag vlugtig in die hof verskyn en is deur mnr. Coert Jordaan verteenwoordig.

Die klagtes spruit na ‘n beweerde voorval die afgelope naweek by die slagoffer se woning.

Jordaan en staatsaanklaer mnr. Oupa Ndlovu was dit eens dat die beskuldigde nie borg hoef te betaal nie. Hulle het die landdros, mnr. Vusi Frank Mokoena, hiervan ingelig. Mokoena het sy wenkbroue gelig. “Hy word dan aangekla van ‘n seksuele misdryf?” het hy gesê-vra. Toe Ndlovu bevestig dat die ondersoekbeampte in die saak die afstanddoening van borg ondersteun het, het die landdros ooreenkomstig beveel.

Jordaan het bygevoeg dat die klag teen sy kliënt eintlik net die gevolg van ‘n dispuut tussen hom en die slagoffer is en dat hulle in ‘n verhouding was.

‘n Ingeligte bron het egter aan Laevelder gesê dat die klaer nie tans in só ‘n verhouding met die man is nie.

Haar regsverteenwoordiger, me. Clea Hattingh, het Laevelder te woord gestaan: “Dis verstommend dat hy op waarskuwing vrygelaat is, terwyl daar bewyse teen hom is. Hy word immers van ‘n ernstige misdryf aangekla. Boonop is daar foto’s in die polisie se besit waarop die beskuldigde op die aand van die voorval saam met die klaer se vervreemde man kuier.”

Jordaan hte die koerant daarop gewys dat sy kliënt van ‘n minder ernstige, skedule 1-oortreding, beskuldig is. Jordaan het nog nie die inhoud van die polisiedossier gesien nie en is nie bewus van enige bewyse teen die beskuldigde nie. “Die saak teen hom is juis uitgestel omdat die polisie dit nog ondersoek.”

Alhoewel DNS-monsters versamel is, is die uitslae van daaropvolgende toetse nog nie bekend nie. Omdat ‘n beskuldigde slegs onder sekere omstandighede op waarskuwing vrygelaat mag word, het Laevelder, in die lig van teenstrydighede, verskeie bronne geraadpleeg om te bevestig of hierdie omstandighede teenwoordig was.

Die koerant is van bakboord na stuurboord gestuur. Daar is eers by Mokoena aangeklop, wat die publikasie toe na Ndlovu verwys het. Dié het die koerant na die ondersoekbeampte verwys. Die stad se polisiewoordvoerder, kapt. Dawie Pretorius, het voorgestel dat provinsiale woordvoerder sers. Gerald Sedibe geskakel word, maar dié is met verlof. Sy kollega, kol. Leonard Hlati, het aanbeveel dat brig. Selvy Mohlala eerder geraadpleeg moes word. Sy selfoon was teen druktyd steeds afgeskakel. Die Nasionale Vervolgingsgesag kon ook nie help nie. Plaaslike staatsaanklaers het nie magtiging om met die media te praat nie. Hul nasionale woordvoerder, mnr. Velekhaya Mgobhozi, het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button