Geliefde speurder lê die tuig neer
Een van die land se mees bekende baasspeurders, lt.kol. Gawie (Sakkie) Louwrens het na 26 jaar in die polisie die tuig neergelê.
LYDENBURG – Een van die land se mees bekende baasspeurders, lt.kol. Gawie (Sakkie) Louwrens het na 26 jaar in die polisie die tuig neergelê.
Louwrens en sy gedugte speurspan was deel van verskeie ondersoeke en die inhegtenisnemings van etlike verdagtes.
Einste Louwrens en sy span hou steeds die wêreldrekord vir die vinnigste opspoor en inhegtenisname van die Thohoyandou-reeksmoordenaar.
Louwrens woon al die afgelope vier jaar in Lydenburg en is verloof aan Mariska Grobler van Deo Volente Eiendomme.
Hy het verskeie toekennings van die polisie se nasionale en provinsiale kantore vir sy uitstaande speurwerk gekry.
Hy het aan die koerant vertel dat hy nou na sy nuwe uitdaging uitsien. “Ons het nou ‘n organisasie sonder winsbejag gestig wat steeds gaan help met geweldsmisdaad in Limpopo.
Heritage Protection Group (HPG) gaan die gemeenskap gratis help en bystaan met ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle, moord, gewapende roof en renosterstropery. HPG gaan saam met Die Spoorsnyers en ander groepe in die Waterberg-omgewing sorg dat misdadigers voor die hof gebring word.” Ongelukkig beteken dit dat Louwrens en Grobler Lydenburg aan die einde van die maand gaan verlaat en hulle in Thabazimbi gaan vestig. “Ons sal graag as alles goed uitwerk, wyer wil help, maar eers in die Waterberg-omgewing begin.”
Die groep bestaan uit vyf direkteure wat Louwrens en Ben (Spore) Engelbrecht insluit. Die twee was van 1990 tot tans by elke plaasaanval in Limpopo betrokke. HPG gaan nou met die polisie saamwerk en ‘n helpende hand aan die SAPD verleen.
Louwrens se laaste speurwerk was die vastrek van die verdagtes wat Petro Ras (60) van Thabazimbi op 18 September op haar en haar man Bruno (73), se plaas doodgeskiet het. HPG gaan ‘n 24-uur-beheerkamer hê en het reeds ‘n helikopter en spoorsnyhonde tot hulle beskikking. ‘n Noodnommer gaan ook op die been gebring word wat 24 uur per dag geskakel kan word.
Louwrens gaan Woensdag 4 November ‘n inligtingspraatjie oor plaasaanvalle, moord, gewapende roof en renosterstropery hou asook inligting verskaf hoe HGP die gemeenskap gaan bystaan.
Die praatjie vind Dinsdag 4 November om 18:30 vir 19:00 by Impangele Inn op die Ohrigstad-pad, plaas. Toegang is gratis, maar besprekings is noodsaaklik.
‘n Braaipak bestaande uit kruisskyf en boerewors met pap, sous en slaai sal teen slegs R95 bedien word. Om bestellings te plaas, skakel Impangele Inn by 083-954-7799.
