Jongste nuus oor Marloth aanval
Die verdagte wat hierdie week in die hof op Malalane verskyn het na die aanval op mnr. Johan Helberg verlede Maandag, werk as 'n veiligheidswag by 'n plaaslike sekerheidsonderneming
MARLOTHPARK – Die verdagte wat hierdie week in die hof op Malalane verskyn het na die aanval op mnr. Johan Helberg verlede Maandag, werk as ‘n veiligheidswag by ‘n plaaslike sekerheidsonderneming.
Die huisroof, wat op ‘n skietvoorval uitgeloop het, het Maandag rondom 06:00 by Kruger se huis in Scorpionstraat plaasgevind. Die verdagte is kort daarna net buite Marlothpark op die Ngwenya-pad vasgetrek. Die private voertuig waarmee hy gery het is met behulp van kameras by die toegangshek geïdentifiseer. ‘n Noodroep is uitgestuur en die voertuig is voorgekeer.
Hy is later die dag, na polisie-ondervraging, aangekla. Hy het Woensdag in die hof op Malalane verskyn sonder om te pleit. Die polisie het nog drie van sy medepligtiges Dinsdag in Witbank in hegtenis geneem. Hulle het Donderdag in die hof verskyn. ‘n Vyfde verdagte wat deur een van sy eie makkers in die been gewond is, is ook net na die voorval in die bosse gekry. Hy word tans onder polisiebewaking behandel. Na verwagting sal al vyf verdagtes Maandag 26 Oktober saam in die hof verskyn en dan pleit.
Die veiligheidswag is in diens van Field Security van mnr. Alwyn Kruger. Field Security het sy beheerkamer in Marlothpark in ‘n gebouekompleks wat aan Kruger behoort. Die maatskappy het die week in ‘n mediaverklaring erken dat een van sy werknemers deur die polisie ondervra word. Dit was voor die inhegtenisname.
Die verklaring het voorts gelei dat die nodige disiplinêre stappe teen die werknemer geneem sal word. Die veiligheid van inwoners is van die grootse belang vir die onderneming.
Kruger se eggenoot, Magda ‘n mede-direkteur van Field Security, het ook aan Laevelder gesê dat die betrokke man wat intussen gearresteer is, al twee keer deur hulle in diens geneem is. Die laaste keer was sedert 2013. Hy het intussen by ‘n ander sekerheidsdiens in Marlothpark gewerk. Kruger het benadruk dat die verdagte tydens die voorval van diens af was.
Hy het in ‘n houthuisie by ‘n woning in Marlothpark gewoon. Die polisie het bevestig dat hy ‘n vuurwapen in sy besit gehad het toe hy vasgetrek is. Volgens bronne is daar nog handwapens, soos enkele gaspistole en ‘n tipe karabyn wat inmekaar skroef en ook met gas werk, in sy huis gevind.
Helberg is ‘n elektrisiën wat ook ‘n swembadonderneming en ‘n hardewaresaak in Marlothpark bedryf.
Die roof het plaasgevind toe sy vrou, Yolandi, Maandag vroegoggend op pad uit was om haar dogter en ‘n maatjie skool toe te neem. Vier verdagtes het hulle weer die huis ingeboender en wou weet waar die brandkluis en die sleutels was. Helberg, wat nog in die bed was, het die geraas gehoor en hom teen die aanvallers vasgeloop. Skote is gevuur en hy is twee keer in die buik en een keer in die arm gewond. In die struweling is een van die rowers ook in die been geskiet waarna die vier in alle rigtings gevlug het. Op watter stadium die verdagte in die private bakkie daar weg is, is onseker.
Helberg se vrou kon die paniekknoppie druk en het in die motorhuis gaan skuil totdat ‘n reaksie-eenheid daar opgedaag het.
Helberg is deur ‘n private mediesediens op die toneel behandel en toe per ambulans na die Tonga Hospitaal geneem.
Hy is later per helikopter na die Themba Hospitaal geneem en is dieselfde dag nog geopereer. Vriende uit sy vroeëre weermagdae het onmiddelik geld vir private mediese behandeling bewillig en hy is na die Kiaat Hospitaal oorgeplaas. Sy toestand is stabiel.
Volgens mnr. Willie van Zyl van W.A. en Vennote wat ook ‘n sekerheidsdiens in Marlothpark en omstreke bedryf, het die bakkie waarmee die een verdagte probeer weggekom het, reeds om 14:00 Maandag op sy kameras by die ingang verskyn. Die voertuig was op pad in. Die blou dubbelkajuit Colt-bakkie is welbekend in Marlothpark.
Dit is onlangs deur die verdagte uit ‘n gestorwe boedel gekoop.
Op die eerste kameramateriaal het die bakkie ‘n kappie op. Toe dit net na 06:00 Maandag weer by die hek uit is, was dit sonder die kappie. Dié is Maandag in die bosse gevind waar dit blykbaar inderhaas afgegooi is – moontlik om die bakkie anders te laat lyk. Die man het toe niksvermoedende voetgangers opgelaai. Nege van hulle is kort daarna saam met hom by die Ngwenyapad vasgetrek. Die polisie het hulle later weer laat gaan.
