
“As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit heel waarskynlik.”
Só waarsku Hennie (Vissie) Visser van Bossies Community Justice soos die feesseisoen naderkruip.
Hy maan alle inwoners om uiters versigtig te wees vir talle skelmstreke wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar kop uitsteek.
“Verskeie gevalle is reeds aangemeld, en talle arrestasies is ook al gemaak,”het Visser gesê.
Hy voeg by dat slaghuise onder meer onder bedrog in die stad en omliggende gebiede gebuk gaan.
‘n Plaaslike inwoner en werknemer van ‘n bekende slaghuis is onlangs byna om die bos gelei deur ‘n man wat glo onderhoud op paaie doen, en dringend vleis nodig gehad het om sy werknemers te voed.
Die werker is na ‘n ander slaghuis verwys, waarna dié eienaar besef het dat iets nie pluis is nie. Die verdagte is uiteindelik met R80 000 se vleis vort, en het nooit daarvoor betaal nie.
Eersgenoemde slaghuis het Maandagoggend weer ‘n oproep van dieselfde man ontvang, wat homself as ‘n besigheidsman van Pienaar voorgedoen het wat dringend vleis nodig gehad het.
Visser voeg by dat die verdagtes glo met ‘n tjek betaal het, waarna dit die volgende dag “gehop het”.
Hy maan inwoners om dadelik vir Bossies Community Justice by 082-567-5212 of die naaste polisiestasie te skakel, sou ‘n bedrogspul vermoed word.
