CrimeHard newsNewsNews

Opvolg: Christine Otto-saak weer uitgestel

Me. Christine Otto bevraagteken die regverdigheid van die regstelsel ná die saak se derde uitstel.

MBOMBELA – Me. Christine Otto, wat in 2014 wreed aangeval is in die Burnside-omgewing, het haar beweerde aanvallers Maandagoggend stip in die oë gekyk.

“Ek het aangehou kyk met ‘n If looks could kill-gesigsuitdrukking. My aanvallers het gedink dat ek dood was nadat hulle my beetgehad het, maar kyk, ek léwe.”

Of ons regstelsel lewend is, betwyfel sy egter nadat haar saak vir die derde keer uitgestel is.

Die drie in die beskuldigdebank was mnr. Thulane Nonyama, mnr. Senzo Masekob en mnr. Lucky Msibi. Hulle is in Junie 2014 gearresteer.

Laevelder het in Maart verlede jaar berig dat Otto besig was om gereed te maak om na ‘n begrafnis toe te gaan, toe sy om 09:00 deur drie gewapende mans oorval is. Hulle het haar in die stort vasgemaak en wreed aangerand.  Sy het haarself losgewriemel nadat sy ‘n saag gebruik het om die toue waarmee sy vasgebind was, los te saag.

Sy is in die gesig geslaan, met ‘n sweep bygedam en met ‘n warm strykyster gebrand.

Hulle het haar in die stort gelos en is met onder andere wapens, juwele en haar motor daar weg.

Otto het aan Laevelder gesê dat die saak al langer as ‘n jaar sloer.

Sy moes Maandagoggend by die Nelspruit Streekshof aanmeld sodat dit kon voortgaan, maar was hoogs ontnugter ná nog ‘n uitstel. Sy is deur mnr. Luis Correia, ‘n bekende gemeenskapslid ondersteun.

Otto het verduidelik dat een van die beskuldigdes se prokureur nie vir die verhoor opgedaag het nie. “Die saak tydens ‘n vorige hofverskyning is ook uitgestel omdat een van die drie nie tevrede was met die prokureur wat die staat gratis aan hom voorsien het nie. Dis baie onregverdig dat hulle my reg op lewe en liggaamlike integriteit kon skend vir ure, maar hulle reg op regsverteenwoordiging word nou so hoog op prys gestel.”

Nóg ‘n verrassing het op Otto, Correia en die ondersoekbeampte in die saak, sers. Krisjan Jansen van Vuuren, gewag. Nonyane is op borg vrygelaat sonder dat Otto óf Jansen van Vuuren van sy borgaansoek bewus was. Hierdie vrylating sal nou ondersoek word. Die saak is tot 2 November uitgestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button