Aanhoudende inbrake laat inwoners met hande in die hare
Diewe het verlede naweek kort-kort by twee spoorweghuise in Dirk Winterbachstraat ingebreek en die inwoners is raadop in hierdie misdaadgeteisterde omgewing
BURGERSFORT – Diewe het verlede naweek kort-kort by twee spoorweghuise in Dirk Winterbachstraat ingebreek en die inwoners is raadop in hierdie misdaadgeteisterde omgewing.
Me. Susan Miller, een van die inwoners, vertel dat hulle nie meer weet wat om te doen nie. Volgens haar gaan dit nou al ‘n paar maande so aan. Vier honde is intussen al vergiftig waarvan twee haar eie was.
“Ons het verlede Donderdag agtergekom iets in ons erf is nie reg nie. My seun het vroeg opgestaan om vir ons vleis te braai, maar kon nêrens die Weber vind nie. In sy soeke na die braaier het hy afgekom op ‘n gedeelte van ons heining agter in ons erf wat geknip is. Die draad was regdeur geknip en met ‘n stok gestut. Die gebrande steenkool van die braaier het by die opening in die heining gelê. Nie net die braaier is gesteel nie, maar ook ons gazebo,” vertel Miller.
Mnr. Stoffel Miller, haar man, het die heining reggemaak, maar Vrydagaand is haar kleinkinders se fietse en speelgoed uit die erf gesteel en die heining weer geknip. ‘n Bruin baadjie, wat vermoedelik aan een van die verdagtes behoort, het by die geknipte heining gelê.
“Die laaste inbraak was Sondag toe hulle by ons buurman ingebreek het. Ek het omstreeks 21:00 gehoor my buurman skree vreeslik en buitentoe gehardloop om te kyk wat fout is, toe ek drie mense uit sy agtererf sien hardloop. Ons het gedink hulle is weg, maar sowat ‘n halfuur later het hulle dit reggekry om by sy buitekamer in te breek,” vertel mnr. Henry Miller, Susan en Stoffel se seun.
Voorheen is die Millers se stoepkamer en buitekamer se sekuriteitshekke oopgebreek en is allerlei toerusting daaruit gesteel.
“Ons motor word saans langs ons huis parkeer en sedert al hierdie inbrake, ondervind ons baie meganiese probleme met die voertuig. Ek vermoed dat die verdagtes al onder die enjinkap gepeuter het. Ek, my man en seun het al verskeie kere die probleem by die polisiestasie, wat oorkant ons geleë is, aangemeld, maar verniet. Ons het al vyf slotte op die voorste hek gesit en maak saans beurte om te slaap sodat iemand kan wakker wees as hul weer probeer inbreek,” vertel Miller.
Die agterste gedeelte van dié huise is langs die treinspoor geleë. Die oop veld maak dit maklik vir inbrekers en kwaaddoeners om toegang tot die huise te verkry. Die Miller-gesin vra slegs dat die polisie saans daar sal patrolleer sodat hul rustig kan slaap.
“Inwoners moenie net klagtes kom lê nie. ‘n Diefstalsaak moet geopen word sodat ons ‘n saaknommer kan hê wanneer ons die klagtes ondersoek anders kan die verdagtes nie aangekla word nie,” vertel konst Victoria Maluleka, polisiewoordvoerder van Burgersfort polisie.
