Marloth-verdagtes is steeds in aanhouding
Vier van die vyf vermeende rowers wat verlede week mnr. Johan Helberg geskiet het, het hierdie week in die hof verskyn
MARLOTHPARK – Vier van die vyf vermeende rowers wat verlede week mnr. Johan Helberg geskiet het, het hierdie week in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding op Komatipoort waar die saak tot 11 November vir verdere ondersoek uitgestel is.
‘n Vyfde verdagte is reeds onder polisiebewaking in Tonga Hospitaal. Hy is tydens die voorval deur een van sy makkers in die been gewond. Hy sal na verwagting op dieselfde dag saam met die ander in die hof op Komatipoort verskyn.
Dié wat reeds wat verskyn het, is mnre. John Mahlalela, Christopher Litshwane, Vusi Gadebe en Ernest Mbebe. Laasgendemde is ‘n sekerheidsbeampte in diens van Field Security en ‘n inwoner van Marlothpark. Hy ken die daaglikse bedrywighede in dié dorpie baie goed en het na bewering aan die spits van die rooftog gestaan. Die aanduiding is dat hy die rowers die nag van buite af met ‘n ompad in Marlothpark gebring het. Dit blyk asof hy sy private voertuig vir die doel gebruik het. Gasgedrewe handwapens en ‘n soort karabyn is kort nadat hy deur die polisie gevang is, in sy houthuisie op ‘n erf in die dorpie gekry.
‘n Mededirekteur van Field Security,
me. Magda Kruger, het verlede week bevestig dat Mbebe al twee keer deur hulle in diens geneem is. Hy was nie aan diens tydens die voorval nie. Sy het gesê die gereg moet nou sy loop neem en daar sal dienooreenkomstig dissiplinêr teenoor hom opgetree word. Dis onseker wat sy huidige posisie by Field Security is.
Helman, die slagoffer, is ‘n elektrisiën wat ‘n swembadonderneming en ‘n hardewaresaak hier bedryf. Hy is intussen uit die hospital ontslaan en sterk nou tuis aan. Die roof het gebeur toe sy vrou, Yolandi, vroeg Maandagoggend op pad uit was om haar dogter en ‘n maatjie skool toe te neem. Vier verdagtes het hulle weer die huis ingeboender en wou weet waar die brandkluis en die sleutels was. Helman, wat nog in die bed was, het die geraas gehoor en hom teen die aanvallers vasgeloop. Skote is gevuur en hy is twee keer in die buik en een keer in die arm gewond. In die struweling is een van die rowers ook in die been geskiet, waarna die vier in alle rigtings gevlug het. Op watter stadium die verdagte in sy private bakkie daar weg is, is onseker.

