CrimeHard newsNewsNews

Hofbrokkies: November se hofverskynings in ‘n neutedop

Laevelder hou jou op hoogte van gebeure in die stad se landdros- en streekshowe.

MBOMBELA – Ons stad se staatsaanklaers, prokureurs en landdroste was die afgelope maand weer hard aan die werk. ‘n Aantal hoëprofielsake het in ons streeks- én landdroshowe gedraai. ‘n Propvol hofrol noodsaak soms dat sake vir lang tye uitgestel moet word. Laevelder hou jou op hoogte.

• Me. Pinky Strydom is op 18 Oktober 2014 in die huis waar sy vir 15 jaar gewoon het, aangeval. Sy het onlangs in die Nelspruit Streekshof getuig dat twee mans haar uit haar motorvoertuig gesleep, met ‘n byl gekap en probeer verwurg het voor sy in ‘n klein, donker kamertjie toegesluit is. Hiér het Strydom se kleinseun twee dae later op haar afgekom. Mnre. Steve Seerane en Milton Masuku staan tereg op aanklagte van onder andere poging tot moord en aanranding met die doel om ersnstig te beseer. Strydom het hulle tydens haar getuienis as haar aanvallers geïdentifiseer. Die saak gaan op 31 Maart 2016 voort.

• Die ouerpaar van Barberton wat daarvan aangekla is dat hulle pornografiese materiaal van hulle sewejarige dogter op hul selfoon vasgelê het, sal op 8 April 2016 weer in die Nelspruit Streekshof verskyn. Laevelder het vroeër berig dat die man en vrou gearresteer is nadat hulle hul selfoon by die plaaslike Cash Converters wou vepand. ‘n Winkelassistent het glo opgemerk dat daar verdagte materiaal op die selfoon was en die polisie geskakel, wat blitsig toegeslaan het.

• Drie inwoners van Acornhoek wat daarvan aangekla word dat hulle ‘n 73-jarige vrou met ‘n graaf doodgeslaan het, sal weer op 21 Januarie 2016 in die Nelspruit Streekshof verskyn.  Mnr. Pleasure Ngobeni, mnr. Solly Bedwell Zitha en me. Ilinah Magagulah staar aanklagtes van aanranding, roof met verswarende omstandighede, opsetlike saakbeskadiging en moord in die gesig. Hulle het na bewering op 23 Desember 2009 me. Vhamija Tibane met ‘n graaf aangeval terwyl hulle van haar vee gesteel het. Die slagoffer is tydens hierdie aanranding ernstig beseer en het aan haar beserings beswyk.

• Elaine Wedderspoon se probleme was vir ‘n maand of wat iets van die verlede nadat die mees onlangse diefstalklag teen haar van die rol geskrap is. Volgens die klaer, me. Hilda Vos, word sy egter nou wéér van diefstal aangekla. Vos het aan Laevelder verduidelik dat sy ‘n kragopwekker van R12 000 aan Wedderspoon geleen het, wat tot vandag toe weier om dit aan Vos terug te besorg. “Die polisie het my bygestaan en die saak is van voor af teen Wedderspoon aanhangig gemaak. Ons wag nog vir haar volgende verskyningsdatum,” het Vos gesê.

• ‘n Plaaslike man het gister weer in die Nelspruit Landdroshof verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy ‘n vrou by haar woning seksueel aangerand het. Die voorval het glo vroeg in Oktober plaasgevind en die man is na sy eerste hofverskyning op waarskuwing vrygelaat sonder dat borg ter sprake was. Hy mag nie geïdentifiseer word voordat hy nie gepleit het nie. Die saak is gister tot 29 Januarie 2016 uitgestel.

• Mnr. Boet Mashego, ‘n soldaat van die SANDF en sy medebeskuldigde, mnr. Micheal Sithole, sal môre weet of die saak teen hulle voortgaan. Dié twee is in September 2010 om 03:45 naby ‘n renosterkarkas vasgetrek en van renosterstropery aangekla. Hulle beweer dat die staat geen gronde vir die klagte het nie. Hulle verweer is daarop gebaseer dat hulle onderskeidelik besig was om beeste en kruie te soek toe veldwagters op hulle toegeslaan het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button