Marloth-rowers se saak hervat in 2016
Die saak van die vyf mans is eergister tot 12 Januarie aanstaande jaar vir verdere ondersoek uitgestel
KOMATIPOORT – ‘n Inwoner van Marlothpark wat by een van die plaaslike sekerheidsdienste gewerk het en goed vertroud was met die bewegings van die bosdorp se mense, bly in aanhouding nadat hy by ‘n gewapende roof betrek is.
Die saak van die vyf mans wat aangekla word nadat mnr. Johan Helberg in Oktober in sy huis in Marlothpark geskiet is, is eergister tot 12 Januarie aanstaande jaar vir verdere ondersoek uitgestel. Daar is nog nie gepleit nie.
Alles dui daarop dat die gebeure in ‘n ernstige lig beskou word en dat hierdie groep ‘n georganiseerde netwerk gevorm het. Volgens bronne word van die verdagtes by ander misdade ook betrek.
Een van die aangeklaagdes, mnr. Ernst Mbebe is ‘n bekende in Marlothpark en is al reeds twee keer by Field Security aangestel wat vanuit Marlothpark sake doen.
Hy het ook in ‘n houthuisie op die erf van ‘n huis in Marlothpark gewoon en met ‘n bakkie gery wat hy ‘n ruk gelede uit die gestorwe boedel van ‘n bekende inwoner gekoop het.
Die voertuig is na bewering tydens die voorval naby die misdaadtoneel opgemerk. Mbebe het dit moontlik gebruik om sy medebeskuldigdes, wat almal van elders is, met ‘n agterpad die oord binne te bring. Gasgedrewe handwapens en ‘n tipe karabyn is ook kort na hy deur die polisie gevang is, in sy houthuisie gekry.
Die ander verdagtes is
mnre. John Mahlalela, Christopher Litshwane, Vusi Gadebe en Mbusi Nkosi wat tydens die voorval in die been geskiet is. Hy is op die toneel agtergelaat en kon die polisie baie help met hul aanvanklike ondersoek en die opsporing van die ander wat so ver as Mbombela en Witbank gevlug het.
Mbebe is die enigste een wat tot dusver aangedui het dat hy ‘n prokureur wil aanstel.
Inwoners in Marlothpark wat anoniem wil bly, is ontsteld dat sulke praktyke onder hulle neuse plaasvind. Die gevoel is dat veral die sekerheidsondernemings beter sekuriteits-intelligensie moet toepas wanneer personeel in diens geneem word.
Daar word gesê Mbebe het hom veral op huisbediendes toegespits en hulle onder sy invloed probeer kry. So kon hy presies weet wat in sekere van die wonings aangaan en wat die huismense se bewegings is.
Field Security het kort na die voorval gesê die gereg moet nou sy loop neem. Daar sal dienooreenkomstig disiplinêr teenoor Mbebe opgetree word. Geen aankondiging oor die beëindiging van sy diens is nog deur die onderneming gemaak nie.
