MBOMBELA – Die vrou wat Donderdagaand by Arkansas Spur by Westend gearresteer is omdat sy na bewering nie haar drankrekening van sowat R500 kon betaal het, het gister in die plaaslike landdroshof op ‘n klag van diefstal verskyn.
Sy is me. Ronell de Villiers. Kapt. Dawie Pretorius, plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig dat sy verskyn het. Die uitkoms van dié hofsaak was teen druktyd egter nie bekend nie.
Laevelder het Vrydag berig dat de Villiers gearresteer is omdat dit glo nie die eerste keer was wat sy by dié Spur gedrink het en nié kon betaal nie. Pretorius het bygevoeg dat sy nié die naweek in aanhouding was nie en reeds Vrydag op waarskuwing vrygelaat is.
Arkansas Spur het Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit omstreeks 20:30 ontbied. De Villiers het bykans R475 se alkohol gedrink en kon glo nie die rekening betaal nie. Iemand het wel glo vir haar kos betaal.
Bossie’s Community Justice en die polisie het ook later daar aangekom en daar is besluit om haar te arresteer omdat dit na bewering nie die eerste keer was wat sy gedrink het en nie kon betaal nie.
Spur se bestuur wou nie kommentaar lewer nie.
Laevelder-lesers het uiteenlopend op die aanvanklike berig gereageer.
“Watter tipe man betaal vir ‘n vrou se kos, maar weier om vir haar drank te betaal? Was hulle saam daar? Het hy haar genooi vir ete? Klink maar fishy, maar ons ken nie die omstandighede nie. Shame man. Sy het seker gedink hy gaan betaal ,” het Irnest Schultz op Facebook geskryf.
” Nico Strydom wou weet: “Hoekom is sy toegelaat as dit voorheen al gebeur het? Was dit regtig nodig om haar te laat arresteer? Kon hulle nie ‘n afbetalingsooreenkoms aangegaan het nie? Maar nee, vir geld verwoes ons ander mense se lewens.”
Angelique du Plessis het laat hoor: “Dis bietjie woes.”
