MBOMBELA – Johan Heunis (58), ‘n plaaslike verkeersbeampte wat gister sy lot in die Rondgaande Hoë Hof sou aanhoor, moet nog ‘n onbepaalde tydperk wag voor hy sal weet of hy tronk toe gaan of nie. Die regter wat hieroor moes besluit, was nie gister beskikbaar nie.
Laevelder berig sedert 2013 oor die skietdood wat tot Heunis se verhoor gelei het. Me. Michelle Curgenven, ‘n 36-jarige ma van twee, is op 4 Julie daardie jaar in haar motorhuis in die Tussenberge-kompleks in Steiltes noodlottig deur ‘n geweerkoeël getref. Heunis is op die toneel in hegtenis geneem.
Hy is op R20 000 borg vrygelaat en sy verhoor het in November verlede jaar begin. Sy regsverteenwoordiger, adv. Piet Pistorius, het Heunis se pleitverduideliking in die hof voorgelees. Heunis het in dié lywige dokument skuld beken op ‘n klag van strafbare manslag.
Volgens die pleitverduideliking het Heunis romantiese gevoelens vir Curgenven gekoester. Dit het by tye vir hom gelyk asof die gevoelens wederkerig kon wees. Haar familielede het dit ten sterkste teenoor Laevelder ontken.
Die onsekerheid het Heunis glo baie ontstel – soveel so dat hy op die dag van die voorval selfdood wou pleeg. Hy het sy dienspistool onder sy ken gehou en Curgenven het dit daar probeer wegneem. Sy is sodoende per ongeluk geskiet. Alhoewel ballistiese kenner Kapt. Christiaan Mangena getuienis tot die teendeel gelewer het, het die regter, mnr. Peter Mabuse, Heunis se weergawe aanvaar.
Vonnisoplegging sou gister hierop volg. Dit sou ‘n einde aan hierdie spanningsvolle hoofstuk in die lewens van talle bring. Heunis, sy regspan en Curgenven se familie en vriende het stiptelik om 10:00 aangemeld. Me. Sharon Joubert het aan Laevelder meegedeel dat die minute stadig verbygetik het, sonder dat Mabuse sy verskyning gemaak het. “Eers was dit 10:00, toe 10:15. Die staatsadvokaat het nie geweet waar Mabuse was nie en Heunis se regspan het ook geen idee gehad nie.”
Staatsadvokaat mnr. Johan Coetzee het hulle bymekaar geroep en verduidelik waar Mabuse homself bevind het. Hy was besig met ‘n ander hofsaak in Pretoria.
“Wanneer twee sake vir dieselfde dag geskeduleer is, mag die hoofregter beslis watter saak die regter se aandag geniet. In hierdie geval, was dit nie ons saak nie en sal Heunis se saak uitgestel word,” het hy gesê.
Dit was vir Curgenven se familie ‘n reuseterugslag. Joubert het gesê dat hulle gehoop het dat dié tydperk van wroeging nou in die hof tot ‘n einde sou kom.
“Ons is almal baie ontsteld. Die hofproses is ‘n emosioneel uitmergelende een. Die regter kon ons minstens ingelig het van die stand van sake,” het sy gesê. Heunis se prokureur, mnr. Coert Jordaan, het in reaksie op ‘n medianavraag gekies om geen kommentaar op die uitstel te lewer nie.
