MBOMBELA – ‘n Wegbreek in die Laeveld se natuurskoon het verlede naweek vir ses vroue in ‘n nagmerrie ontaard toe hulle vir ure in ‘n hut deur ‘n gewapende aanvaller aangehou is.
“Die polisie ondersoek ‘n saak van huisbraak, maar dit was meer ‘n gyselaarsdrama,” sê me. Louise van Wyk (32). Sy het Vrydag en Saterdag saam met mee. Samantha Morris (31), Miandi du Plessis (36), Jess McMurtie (22) en twee vriendinne wat nie hul name genoem wil hê nie, by Komatiland Forest gaan stap.
Hulle het Vrydagaand 27 November by Uitkyk oornag, en Saterdag 05:00 in mistige weer in die pad geval. Hulle het die middag by ‘n geslote Lisabon Hut aangekom weens ‘n misverstand met hulle bespreking.
Daar is nie selfoonopvangs nie en hulle moes ‘n entjie wegstap om die noodnommer, wat hulle deur die venster kon sien, te bel.

Die persoon wat geantwoord het, het aangedui dat sy nie meer die noodkontak is nie, en hulle iemand anders se nommer gegee, wat ‘n werker gestuur het om vir hulle oop te sluit en vuurmaakhout te bring.
Daar is nie veel van ‘n slot op die deur nie, en hulle is aangeraai om nie die sekuriteitshek te sluit nie, omdat hulle nie ‘n sleutel daarvoor het nie. Tog stap hulle al agt jaar op die roetes en het nooit vantevore sekuriteitsprobleme ondervind nie.
Hulle het in die rivier gaan bad en later die aand buite gesit en kuier. Ongeveer 20:00 het Miandi en Samantha ‘n draai gaan loop voor hulle wou gaan slaap, toe hulle agter die huis op ‘n man afkom.
Hy het ‘n lang bruin jas aangehad. Dit was dieselfde man verby wie hulle ongeveer 12:00, sowat ‘n kilometer van die hut af, geloop het. Hulle onthou hoe vriendelik hy hulle gegroet het. Die man het toe egter ‘n blou balaklava opgehad en hulle kon net sy oë sien.
Miandi en Samantha het gegil en laat spaander, terug stoep toe, met die man agterna. Hy het ‘n klein vuurwapen op hulle gerig. Hy wou hulle selfone, kontant en voertuig hê.

Hulle het verduidelik dat hulle gestap het. Hy het ”hikers” vermoedelik verkeerd geinterpreteer as ”hunters” en het toe op vuurwapens aangedring.
Hulle het voorgegee hulle het net een selfoon tussen hulle, en dit saam met kontant en ‘n kamera en marshmallows, vir hom aangebied. Hy wou sigarette hê, maar nie alles nie, want Samantha “sou dit later nodig hê vir haar senuwees”.
Hy het hulle raad gegee: moenie vrou-alleen stap sonder wapens nie.
“Hy het nie sin gemaak nie. Hy het deurmekaar voorgekom en skielik van onderwerp verander in gebroke Engels. Aanvanklik was hy gaaf, toe word hy baie vining baie aggressief,” sê Jess.
Hy het hulle deurgaans uitgeskel, veral omdat hulle wit, Engels en vroulik is, en het baie gevloek.
Hulle moes een-een hulle sakke bring sodat hy dit kon deursoek, maar hulle het hul waardevolle items in die hut gelos, sonder dat hy dit agtergekom het.
Hy het hulle toe sy vier koeëls gewys en gesê: “Vier van julle gaan vanaand doodgaan.”
Maar die wapen wou nie oorhaal nie, en hy het dit neergesit en ‘n groot jagmes te voorskyn gebring.

Die aanvaller het glo gesê hy is al drie maande in die area. Hy moes hulle die hele middag dopgehou het, want hy het geweet hulle het gaan bad.
Hy het gesê hy moet loop, maar voel “hartseer” en as hy só voel is daar net een ding wat hom laat beter voel. Hy wou twee binne toe neem, “om bruin babatjies te maak” maar die vroue het verseg om van mekaar geskei te word.
Hy het toe almal beveel om binne toe te gaan. Dit was pikdonker behalwe vir ‘n kers op ‘n groot houttafel. Hier het hulle geweier om hulle “broeks” en jasse uit te trek.
Hy het as’t ware ‘n kat en muis speletjie gespeel deur kort-kort nader te kom, dan weg te beweeg en hulle weer te bestorm terwyl hy die mes “soos ‘n mal ding” rondgeswaai het.
“Ons het soos ‘n kudde skape gelyk,” sê Jess.
Hy het skielik vir Louise aan die hare gegryp en die mes teen haar keel gedruk.
Hy het die mes opgelig om haar in die rug te steek waarop een van die vriendinne haar beskerm en gepleit het. Hy het toe wegbeweeg.
Miandi het ‘n knipmes gehad en besef dat sy hom nie deur sy dik baadjie sou kon steek nie.
“Toe hy vir Louise gryp het ek besef ek gaan iets moet doen, maar ek het geweet ek kan hom nie steek nie.”
Sy het die tafel, wat tussen hulle was, begin stoot. Op breekpunt, het hulle almal dit begin stoot en vir hom gegil om pad te gee.
Hulle het heeltyd gebid, en “ons was deurgaans toegeeflik en gedweë, so hy het nie verwag ons sou hom aanval nie.” Die kers het geval en alles was donker. Louise kon vir ‘n oomblik ‘n flits aankry, en Sam het die mes probeer gryp en haar hand in die proses gesny.

Hulle kon egter die tafel op sy sy keer, en het hom só van hulle weggehou.
“Ons was op daardie punt, as ons hom in die hande sou kry…” sê Jess. “Nie een van ons was verstandig toe ons eers rooi gesien het nie.” Sy is in die proses met die mes op die kop gekap.
Die man het toE uiteindelik by die deur uitgehardloop. Hy het geloop, met die belofte dat hy en sy makkers sal terugkom om die plek af te brand. Dit was ongeveer 22:00.
Die vroue het matrasse teen die tafel geskuif en die hele nag gewag, te bang om uit te gaan om iemand te probeer bel, tot dit lig begin word het.
Waar net een van hulle die vorige aand die tafel kon hanteer, het hulle ses saam maar gesukkel om dit van die deur af weg te kry die volgende oggend. Hulle het in ‘n oopte sein gekry en die nuwe noodkontak gebel.
Sy het drie oproepe verwerp en toe haar foon afgesit.
Hulle het ‘n SMS gestuur: “Help, we’ve been injured, we’ve been attacked.”
Komatiland is in kennis gestel, maar die noodkontak het nie een keer daarna gevra of hulle veilig is nie. “Hoe kan jy, as die noodkontak, die foon doodruk 04:30 in die oggend? Dit is walglik, dit is ongelooflik,” sê Samantha.
Hulle het Bossies Community Justice gebel. Mnr. Hennie Visser en AO Danie Theron van die honde-eenheid het hulle te hulp gesnel en ‘n ambulans ontbied wat hulle ingewag het toe Komatiland Forest-bosbouers hulle van die berg afgebring het.
Visser sê hulle was baie dapper, en dis goed dat hulle bymekaar gebly het.
- Sien ‘n lys van noodkontaknommers in die Laeveld hier.
Hulle sê dit was belangrik dat hulle derugaans saamgewerk het: hulle het sover moontlik saamgewerk, het bymekaar geblyen by tye gemaak asof hulle hom nie verstaan nie.
Die vroue het groot lof en dankbaarheid gehad vir almal wat hulle gehelp het, maar hulle is bekommerd oor ander stappers: “Hy sê hy is ‘n jagter van mense. Hy sal dit weer doen, hy het nou een keer daarmee weggekom. Dit was duidelik nie die eerste keer dat hy so iets gedoen het nie.”
Komatiland Forest het aangebied om vir berading te betaal en was na afloop van die voorval besig om beter sekuriteit aan te bring. Mnr. Chris de Beer sê hulle neem hul gaste se veiligheid baie ernstig op en verskerp tans sekuriteit op die Uitkyk en Prospectus-staproetes, wat baie afgeleë is. Teen vandag (Vrydag) sou werkende sekuriteitshekke aangebring word, en volgende week sal ‘n panieksisteem geïnstalleer word.
“Ons wil ons mense veilig hou,” sê hy.
Volgens die vroue is die aanvaller ‘n Suid-Afrikaner in sy 30’s en sowat 1,8 meter lank met kort rasta-lokke.
Die polisie het bevestig dat niemand nog in verband met die voorval aangekeer is nie.
Na hulle ontbering het die vroue die volgende raad vir ander stappers:
- Bly in groepe. Moenie toelaat dat julle van mekaar geskei word nie
- Dra ‘n wapen wat jy weet hoe om te gebruik aan jou persoon, veral langs die kampvuur of laat-aand
- Speel dom, maak asof jy die aanvaller nie verstaan nie
- Jok as jy moet
- Maak seker iemand weet waar julle gaan stap.
