MBOMBELA – Die polisie was Vrydagaand toevallig op die regte tyd op die regte plek en, hoewel hulle nie vermeende plaasaanvallers kon aankeer nie, is ses van agt gesteelde vuurwapens teruggevind.
Volgens plaaslike polisiewoord-voerder, kapt. Dawie Pretorius, het mnr. Ivan O’Linsky Vrydag omstreeks 23:00 by sy plot op Cairn aangekom. “Hy het sy voertuig parkeer en is van agter oorval toe hy by die huis inloop,” het Pretorius gesê.
Die onbekende aantal aanvallers het vooraf al die ligte afgesit en dit was pikdonker. Hulle het O’Linsky vasgebind en die huis deursoek voordat hulle met ‘n Toyota Hilux, skootrekenaar, tablet, plasma-televisie, kraagsaag en agt vuurwapens gevlug het.
Lees ook: Geveg tot die dood tydens plaasaanval
Die polisie was egter met ‘n misdaadvoorkomingsoperasie besig en het ‘n stop-en-deursoekpunt op die N4 by Mataffin gehad. Die verdagtes in die gesteelde bakkie het nie gehoor gegee aan beamptes se bevele om te stop nie en het weggejaag. Die bestuurder het egter kort hierna beheer oor die voertuig verloor en in ‘n sloot beland.
Die verdagtes het op die vlug geslaan. Buiten vir twee handwapens, het hulle al die gesteelde goedere net so in die bakkie gelos. Laevelder kon O’Linsky nie vir kommentaar bereik nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.
Lees ook: Vrou praat nege maande later oor wrede aanval
