CrimeHard newsLocal newsNewsNews

Polisie wil “prokureur” arresteer

Die vrou met die mooi glimlag het haar glo ook voorgehou as opsporingsagent met speurder-kontakte.

HAZYVIEW – ‘n Vrou wat haarself na bewering as prokureur in Louis Trichardt voorgedoen het, het nou swaarde met ‘n Laevelder gekruis nadat sy glo met dié se geld vort is, ook onder die voorwendsel dat sy as prokureur praktiseer.

‘n Ontstelde me. Chantel Hayes van Witrivier het Laevelder van  me. Christie Opperman se beweerde bedrogspul ingelig. Opperman het in 2007 as prokureursklerk in Louis Trichardt begin werk.

Teen 2010 het haar klerkskap-kontrak verval, maar sy het aanhou werk en glo voorgegee dat sy as regskenner hierdie diens kon lewer. Sy is uitgevang en het die dorp verlaat voor haar werknemer haar dissiplinêr kon verhoor.

Sy het haar hierna in Hazyview gevestig en na bewering weer as prokureur opgetree.

Daar is in 2011 berig dat Opperman ‘n eiendomstransaksie opgestel het waarvoor sy betaling ontvang het. Sy is in Oktober daardie jaar gearresteer. Provinsiale polisiewoordvoerder brig. Selvy Mohlala het bevestig dat daar ‘n klag van bedrog teen haar aanhangig gemaak is.

Opperman was egter gou weer op vrye voet. Hayes en haar gesin was op soek na vêrlangse familielede en wou ‘n opspoorder daarvoor aanstel. “Ons het gedink dat ons voordeel kon trek uit mineraalregte en wou met vêrlangse familie kontak maak om dié moontlikheid te ondersoek. Opperman het my via Facebook gekontak en gesê dat sy opsporingswerk doen.

Sy het ook gesê dat sy vir binnelandse sake werk en kontakte in die speurdiens het wat kon help. Sy wou ‘n deposito vir dié diens hê.” Die stad se binnelandse sake het by monde van me. Dorris Chiloane ontken dat Opperman ooit daar werksaam was.

Hayes het ‘n deposito van R1 380 betaal en nooit weer van Opperman gehoor nie. “In retrospek moes ek seker geweet het. ‘n Mens sluit mos nie sulke ooreenkomste oor sosiale media nie,” het sy spyt gesê.

Hayes is nie die enigste een wat op soek is na Opperman nie. Witrivier polisiewoordvoerder AO Gugu Phiri het gister bevestig dat ‘n lasbrief vir haar arrestasie uitgereik is. “Sy is weer van bedrog aangekla,” het sy gesê. Laevelder se pogings om Opperman telefonies en via Facebook op te spoor, het ook geen vrugte afgewerp nie.

Enigeen met inligting oor Opperman kan Witrivier SAPS by 013-750-0888 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button