Laerskool spog dié jaar met ‘n hele vyf nuwe ywerige leerkragte
Hierdie leerkragte kom van heinde en verre en vertel dat hul beplan om vir die langtermyn deel van die personeel te bly
BURGERSFORT – Na ‘n lang skoolvakansie spog Laerskool Burgersfort met vyf nuwe onderwysers wat vanjaar by hul span aangesluit het.
Hierdie leerkragte kom van heinde en verre en vertel dat hul beplan om vir die langtermyn deel van die personeel te bly.
Me. Elsabé van der Westhuizen wat vanaf Parys in die Vrystaat verhuis het, vertel dat sy baie uitsien na die nuwe uitdaging. Elsabé sal toesig hou oor die gr. R-klas.
Me. Marietjie Dirker het haar onderwysgraad deur Unisa verwerf en het haar kinderjare in Randfontein deurgebring. Sy sal sosiale wetenskap en kuns en kultuur vir gr.4, -5 en -7 aanbied.
Nadat me. Janina Cloete haar onderwysgraad by die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy verhuis vanaf Van Zylsrus naby Upington om deel te wees van Laerskool Burgersfort.
“Ek sien baie uit na die nuwe uitdaging. Die natuurskoon in die omgewing is een van die redes hoekom ek hierheen gekom het,” voeg sy by.
Sy sal Afrikaans, sosiale wetenskap en lewensoriëntering vir gr. 4 tot -7 aanbied.
Mnr. Dirk Engelbrecht wat op Burgersfort grootgeword het, sal rekenaarklasse aan al die grade gee, sowel as sosiale wetenskap vir die gr. 5-leerders. “Ek het my onderwysgraad in Pretoria voltooi en kon nie vinnig genoeg terugkeer na my wortels nie,” vertel hy.
“Ek is baie bly om deel te word van die skool se uitnemende span. Ek kom van Ballito in Natal en is as die nuwe remediërende onderwyser hier aangestel. Ek is ook betrokke by die sport en sien reeds uit na die atletiek wat om die draai is,” vertel mnr. Renier Minnaar.
