Mamma sal niks aan serebrale gestremde dogtertjie verander
Ek wil net hê sy moet ten minste vir my kan sê wanneer en wáár sy seer het
MBOMBELA – “Ek sou niks aan Charlene verander nie. Ek wil net die lewe vir haar makliker maak.”
Só gesels me. Bianca Els, Charlene (4) se ma, oor haar dogtertjie wat erge serebrale verlamming het weens ‘n suurstoftekort by geboorte.
Ironies genoeg is Charlene in 2011 in ‘n privaat hospitaal met die beste geriewe gebore. Dinge het egter skeefgeloop en sy sal waarskynlik nooit ‘n normale lewe lei nie.
Bianca was later met haar kleinsus, Chloé (2) slegs 20 minute in kraam en kon nie eens betyds die hospitaal haal nie.
Sy is net daar by die huis op die bed gebore, maar is blakend gesond.
Bianca was destyds 38 weke met Charlene swanger toe sy in kraam gegaan het en hospitaal toe is. Sy het normaal geboorte geskenk, maar Charlene was na raming 90 minute van suurstof ontneem. Sy is dadelik na die neonatale-intensiewesorgeenheid waar sy sowat ‘n maand sou deurbring.
“Sy kon nie self asemhaal nie en daar was drukking op haar brein. Sy was sowat twee weke onder verdowing sodat haar organe nie so hard moes werk nie. Toe sy bygebring is, het sy egter konvulsies (stuiptrekkings) begin kry en is wéér verdoof,” het Bianca vertel.
Toe Charlene later uit die hospitaal ontslaan is, is Bianca en haar man, mnr. Eugene Els, ingelig dat hulle hulle daarop moes voorberei dat Charlene permanente versorging sou nodig hê.
“Hulle het gesê sy sou nooit normaal wees nie. Ons moes ons regmaak vir ‘n lewe van permanente fisioterapie, spesiale skole… Ek het dit natuurlik glad nie geglo nie,” het Bianca vertel. Soos die maande egter aangestap het en Bianca gesien het dat Charlene nie soos ander babas haar mylpale bereik nie, het die realiteit begin insink.
“Charlene is soos ‘n babatjie wat lê. Sy kan met hulp staan, maar glad nie sit of praat nie. Sy het geen balans in haar bolyf nie. Sy kan egter babbel en lag,” verduidelik Bianca.
Sy glo dat Charlene se gestremdheid meer fisies as verstandelik is. “Sy kan tantrum en byt jou aan die nek as jy haar uit die karstoeltjie haal. Dit is seker haar manier om met jou te kommunikeer.”
Sy en Chloé gaan daagliks saam na ‘n dagmoeder in die stad. “Chloé is Charlene se bodyguard. Sy deel alles met haar. Raak aan Charlene en jy raak aan haar,” glimlag Bianca. “Chloé is my windgat en Charlene my pop.”
Lees ook: NHS seuns se briljante konsep bring hoop
Charlene is in 2013 na dr. Hein van Wyk op Witrivier vir stamselbehandeling en dit is hoe Laevelder die eerste keer van haar te hore gekom het. Sy het reeds vier keer behandeling ontvang en toon elke keer merkwaardige verbetering. “Die verskil is dadelik sigbaar.
“Haar gehoor het amper 100 persent verbeter en haar ogies het reggetrek. Haar lyfie het ook baie slapper geword en trek nie meer so styf nie.
“Waar sy voorheen tot 30 stuiptrekkings op ‘n dag sou kry, het dit na haar laaste behandeling in Desember verlede jaar heeltemal verdwyn,” het Bianca bygevoeg.
Lees ook: Klein Charlene toon puik verbetering
‘n Behandeling kos egter tot R27 000 en die Else is baie dankbaar dat Van Wyk self twee van hulle geborg het. Bianca besef dat Charlene waarskynlik vir die res van haar lewe erg gestrem sal wees.
Sy benadruk dat sy niks aan Charlene sou verander nie, maar huil wanneer sy uitbrei oor hoe sy haar lewe sou wou vergemaklik. “Ek wil net hê sy moet ten minste vir my kan sê wanneer en wáár sy seer het.”
Hulle het al talle fondsinsamelings vir Charlene gehou en die volgende een is op 27 Februarie wanneer die sanger Gibbon by The Lapa Pub & Bistro sal optree. Hy het onlangs sy debuutalbum, Maskers vrygestel en dit kry reeds groot aftrek.
Kaartjies kos R50 per persoon en die opbrengs sal vir Charlene se stamselbehandelings aangewend word. Navrae: William by 083-449-3036.
