Frank klim in 15 karakters se koppe tydens Reünie
Na die Covid-19 pandemie het Petrus Boshoff uiteindelik teruggekeer na sy ou Hoërskool in die toneelstuk, Reünie.
Ná 44 jaar keer Petrus Boshoff terug na sy alma mater, Hoërskool Totius, vir sy uiteindelike 40-jaar-reünie nadat die Covid-19-pandemie die oorspronklike byeenkoms uitgestel het. Wat hy verwag om ’n aand van herinneringe en herontmoetings te wees, neem egter ’n onverwagse wending wanneer ou vriende én onbekende gesigte hul lewensverhale begin deel.
LEES OOK: IN FOTO’S: Innibos 2026 se syfers wys fees se enorme impak
In Reünie vertolk Frank Opperman nie net Petrus nie, maar ook 14 ander karakters. Met weinig meer as ’n skoolbaadjie wat soms plek maak vir ’n rok of ’n jas, verander hy moeiteloos van een persoon na die volgende.

Sy meesterlike stemwerk, subtiele liggaamstaal en fyn karakterisering laat die gehoor skater van die lag én verstom oor hoe oortuigend hy binne sekondes in ’n oud-onderwyser, voormalige skoolmaat of selfs ’n vroulike karakter verander.

Wanneer dit uiteindelik Petrus se beurt is om sy eie storie te vertel, verander die toon. Hy deel met deernis herinneringe aan vriende wat hy deur die jare verloor het en besin oor die verloop van die lewe.
LEES OOK: KYK: In die Stoel met Laevelder: Naranda Leeuwner
Tog eindig die aand op ’n ligter noot wanneer hy onverwags ’n voormalige skoolvriendin raakloop wat hom destyds gesoen het – ’n oomblik wat ná 44 jaar steeds helder in sy geheue leef. Hul ontmoeting laat ou herinneringe herleef en skep terselfdertyd nuwes.

Dana Snyman en Frank het reeds verskeie kere kragte saamgesnoer om bekroonde eenmanproduksies te skep – Dana met die pen en Frank op die verhoog. Werke soos Die uwe, Pottie Potgieter, Rooikaart, Hond, Klaagliedere van ds. Tienie Benade en Donkie het gehore landwyd beïndruk. Met Reünie sluit die ervare regisseur De Klerk Oelofse by dié bekroonde span aan.
