Administrasie van Facebook-blad waarsku teen aanlynlaster
Huygen noem dat dit nie is om 'n nat kous te wees nie, maar om homself te beskerm teen enige regsaksies wat dalk as gevolg van iemand se woorde mag voortspruit.

Aanlynlaster is lankal nie meer ‘n grap nie. Met die koms van sosiale media was daar toegelaat dat duisende mense hulle kommentaar op ‘n magdom onderwerpe lewer. Soos dit maar gaan met die mensdom, sal daar altyd dié wees wat roekelose opmerkings maak. In hierdie verligte eeu is die moontlikheid van ‘n lasterregsgeding teen die beledigende party egter baie groot.
Dit gebeur al meer dat verontregte persone eise instel teen die individue of selfs die administrasies van sosiale bladsye deur klagte in toepaslike howe aanhangig te maak.
In leketerme is laster ‘n verklaring wat gepubliseer word, of een wat skade berokken aan die reputasie van ‘n ander – of dit waar is al dan nie.
Anders as met mondelingse lastersake, is dit gewoonlik ook baie makliker om bewyse te kry wanneer so iets op sosiale media gebeur, aangesien dit eenvoudig is om ‘n skermbeeld van die kommentaar te verkry voor dit dalk verwyder word.
Indien dit ‘n besigheid is wat aan die ontvangkant van laster is, kan howe soms aanvra dat die skade bewys moet word deur die verlies aan wins, maar dit is nie ‘n gegewe nie. ‘n Algemene toets om te bepaal of die reputasie van ‘n persoon geskaad is, is om vas te stel of die kommentaar veroorsaak het dat die individu voel dat sy/haar eweknieë minder van hom of haar sal dink na die opmerking.
Soos met menige dorp se sosiale Facebook-bladsye is Barbertonners Mpumalanga ook dié een waar almal in die omtrek nie net plaaslike inligting bekom nie, maar ook hul hartseer, geluk en soms woede deel. Om so ‘n blad te bestuur sit nie in enigeen se broek nie, want met die wetgewing rondom sosiale media kan die deelnemers op hierdie platform se gesprekke die adminstrasie van die blad vinnig in die kookwater laat beland.
Volgens Peet Huygen, wat onlangs hierdie blad oorgeneem het, is die taak enorm en soms uitputtend aangesien jou oë die hele tyd moet oop wees en jy moet raaksien wat aan die gebeur is.
Vandat Huygen oorgeneem het, is dit duidelik dat hy nie grappies gemaak het toe hy die reëls baie duidelik uitgespel het nie aangesien hy alreeds ‘n paar mense van die blad verwyder het. Hy noem dat dit nie is om ‘n nat kous te wees nie, maar om homself te beskerm teen enige regsaksies wat dalk as gevolg van iemand se woorde mag voortspruit.
“Hierdie is ‘n gemeenskapsgroepblad. Soos tevore kan julle adverteer, huidige sake en nuus in en om ons gemeenskap plaas en met die gemeenskap julle gedagtes deel. Ons wil wel vra dat ons die gebruik van haatspraak en enige rassistiese opmerkings van die blad hou,” Hy waarsku dat skuldige partye summier verwyder sal word en dat die admin nie aanspreeklikheid sal aanvaar in geval van ‘n regsgeding wat sy ontstaan het as gevolg van opmerkings en opinies van lede op die forum nie.
Huygen sê dat hulle tot dusver die blad geniet, aangesien dit vir hulle ‘n platform gee vanwaar hulle vir die gemeenskap iets kan doen en beteken. “Ek bedank ieder en elk wat by die reëls hou en vra dat die wat nie hulle pad oopsien om die reëls te aanvaar nie, hulself summier moet verwyder voordat ek genoop word om dit te doen.”
