Musikale ma en dogter spog met vele CDs
Sangtalent bruis deur die are van Marian du Plessis en haar dogter Chimoné Kok en die tweetjies het reeds 'n handvol CD's die afgelope paar jaar vrygestel.
KOMATIPOORT – Chimoné het onlangs by die Komatipoort Prawn Festival opgetree en het op 6 April haar CD In jou oë, vervaardig deur Heinz Winckler, vrygestel.
Die ma van twee vertel dat sy van kleins af in sang belanggestel het en baie beïnvloed is deur haar musikale ma en oupa.
Sy wou nog altyd ‘n CD opneem en kon uiteindelik meer aandag aan haar sangloopbaan gee. Sy is geïnspireer deur dinge soos haar huwelik, kinders en land. Sy is baie trots daarop om ‘n Suid-Afrikaner te wees.
Die sangeres tree by privaatfunksies op en was ook al betrokke by CANSA Relays.
Sy vertel dat sy ‘n paar radiostasies genader het om te hoor of hulle haar liedjies sal speel.
Luister na Chimoné se In jou oë:
Luister op youtube na nog van haar liedjies:
Chimoné hoop om so ver moontlik haar CD te bemark en deur harde werk haar droom te verwesenlik om ‘n suksesvolle Suid-Afrikaanse kunstenaar te word.
Sy vertel dat haar familie haar onvoorwaardelik ondersteun en dat Marian nog altyd haar steunpilaar was wat haar gemotiveer het om hoër hoogtes te bereik.
Die tweetjies sing graag saam en het ‘n oorspronklike lied geskryf wat op Marian se Waarheen-album verskyn.
Wanneer die aspirant musiekstêr haar nie agter ‘n mikrofoon bevind nie, speel sy ringbal as deel van die plaaslike klub se span en geniet dit om funksies te beplan.
Belangstellendes kan by Chimoné self ‘n CD koop of besprekings vir optredes doen deur ‘n epos aan chimone@mweb.co.za te stuur.
Marian, ‘n stemonderwyseres by Alegria Musiek/Marian Sang Studio, is getroud met Gerrie du Plessis, het drie kinders en ses kleinkinders.

Nes haar dogter het sy in ‘n musikale huis grootgeword en is van kleins af deur haar pa geleer sing. Hy het destyds ‘n plaat gesny en baie opgetree by verskeie funksies.
Haar derde album, Erdekruik, is verlede jaar vrygestel. Die gospelalbum bevat oorspronklike liedjies uit haar pen, in samewerking met Heinz Winckler.
Die titelsnit lê haar baie na aan die hart aangesien dit geïnspireer is deur ‘n preek deur haar predikant-pa. Die tema was “Ons skat in erdekruike,” en het haar diep geraak. “Die woorde van die liedjies kom diep uit my hart om aan die Here die eer te bring,” vertel sy.
Marian se liedjies is al op Radio Laeveld, Radio Kansel, RSG en Tygerberg 104FM gehoor en sy tree gereeld by funksies en in gemeentes op.
Luister na Marian se Erdekruik:
Luister na nog een van haar liedjies, Waarheen, hier.
Sy hoop om op groter verhoë op te tree, soos Gospel Skouspel. Sy is tans deel van ‘n kwartet genaamd Q.Quartet, wat by funksies optree.
Wanneer sy nie in die musiekwêreld delf nie geniet sy dit om te lees en blokkiesraaisels in te vul vir ontspanning.
“Ek is dankbaar dat die Here my ‘n talent gegee het wat ek graag gebruik om Hom te verheerlik. Ek voel dat, indien ek mense kan bemoedig op ‘n geestelike vlak met die woorde van my liedjies, dit vir my ‘n voorreg is om hierdie gawe te gebruik,” het sy afgesluit.
