Local newsNews

Familie onthou Onderberg pionier

Piet Maritz, 'n boer wat vir meer as 60 jaar in die Onderberg gewoon het, is verlede Vrydag oorlede.

KOMATIPOORT – Onderberg-legende Piet Maritz is verlede Vrydag oorlede en sy familie het hul herinnering oor hom gedeel.

Hy is op 23 Desember 1922 op die plaas Derby naby Daniëlskuil in die Noord-Kaap gebore en hy, sy ouers, broers en susters het met wa en osse na Nelspruit en die plaas, Eerstegeluk getrek.

Hy het in 1953 na die plaas Verdwaal in die Onderberg getrek en met ‘n werker en trekker het hy die bos skoongemaak en begin boer. Hy is op 10 Mei 1958 met Louisa Wessels (Goggie vir hom) getroud en hulle was vir 58 jaar getroud. Die paartjie het vyf kinders (Marie, Callie, Piet, Wessel en Francoin), 14 kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

Volgens sy familie was hy ‘n beskeie mens wat baie vir sy mede-Onderbergers gedoen het. Hy het in sy jonger dae op verskeie rade gedien soos Barberton-distrik se padraad, boereünie, rietkwekersvereniging en waterraad en het baanbrekerswerk gedoen.

In ‘n huldeblyk aan haar oupa skryf Ilse Bosch: “Daar is so baie om te onthou, daar is so baie om op trots te wees. Hy was ‘n man wat geslyp is uit die rots waarop ‘n familie hulle lewens gebou het. Hy was ‘n eggenoot wat sy liefde, respek en deernis vir sy vrou sonder twyfel gewys het. Hy was ‘n pa by wie jy kon leer, by wie jy kon huil, saam wie jy kon lag. Hy was ‘n vriend wie se oor nooit doof was, wie se deur altyd oop was. Hy was ‘n oupa wat kwaai kon frons, en met ‘n skewe glimlag sy kleinkinders terg. Hy was ‘n oom wat altyd daar was. Hy was ‘n Godsman wat sy liefde vir die natuur en God se skepping met soveel respek bewonder het, wat sy planne in sy Hemelse Vader se hande gelaat het, wat vertrou het, wat geglo het. Hy het sy familie gelei, hulle beskerm, hulle opgebou, hulle bymekaargehou.”

Die familie wil graag dr. Theo Stronkhorst, Mediclinic Nelspruit Saal M se personeel en Securicon Lowveld se ambulansdiens bedank.

Die begrafnisdiens was Donderdag vanuit die NG Kerk Komatipoort.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button