Geliefde plaaslike historikus oorlede
Oom Hans was ‘n gereelde kuiergas by die koerant voor sy dood en het verskeie kere uitgehelp waar die geskiedenis te kort geskiet het.

LYDENBURG – Geskiedkundige, legende en ‘n man met vaste beginsels. Dit is die woorde wat telkens opduik as daar gepraat word van oom Hans Meyer.
Oom Hans is Maandag dood by Mediclinic in Mbombela na sy gesondheid baie verswak het die afgelope drie maande.
Sy seun, Dawie Meyer, het aan die Steelburger/Lydenburg Nuus gese dat oom Hans op 13 September 81 jaar oud sou word. “Ek is dankbaar teenoor die Here. My pa het my geweldig aangeraak. Hy was deur en deur ‘n familie-man. Liefde en kos was daar altyd in die huis. Ek het baie geleer by hom en ja, sy plek is leeg.”
Oom Hans was ‘n gereelde kuiergas by die koerant voor sy dood en het verskeie kere uitgehelp waar die geskiedenis te kort geskiet het. Die historiese begraafplaas het hom baie na aan die hart gelê en daar is min mense wat dié dorp en omliggende dele se verlede so goed geken het soos hy.
Hy het grootgeword in die Ohrigstad, Burgersfort en Lydenburg omgewing en het vir 45 jaar by die ou Transvaalse Paaie departement gewerk.
Begrafnisreëlings was nog nie teen plasing bekend gemaak nie.
