Helpende Hand-vrywilligers bemoedig en bemagtig by vergadering
Lede van die Onderberg Helpende Hand-tak was onder byna 100 vrywilligers wat onlangs die organisasie se streeksraadvergadering bygewoon het.
KOMATIPOORT – Die plaaslike Helpende Hand-tak het ‘n paar lede na ‘n onlangse streeksvergadering gestuur om bemoedig en bemagtig te word. Die vergadering vind drie keer per jaar plaas en poog om vrywilligers te ondersteun en inspireer.
‘n Hele paar sprekers, insluitend dr. Gustav Gouws, het die groep toegespreek. Gouws het gepraat oor “Wie versorg die versorger?” en beklemtoon dat vrywilligers by liefdadigheidsorganisasies die meeste van die tyd ekstra moeite doen en soms ook uitgeput en oorlaai voel.
Vrywilligers is aangemoedig om dan na hulself om te sien om langtermynskade en uitbranding te voorkom.
Isabel Faure, Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werker, het die takke ingelig oor belangrike maatskaplike sake waarmee hulle te doen kry. Sy het onlangs ‘n gebruikersvriendelike gids vrygestel vir vrywilligers wat op grondvlak soms met moeilike vrae gekonfronteer word.
Riaan du Plooy, adjunk- uitvoerende hoof van Helpende Hand, het die takke opnuut laat besin oor die belangrikheid van reg gee. Die #geeReg-beginsel laat mense weer dink oor die rede hoekom jy gee en is belangrik wanneer die lede projekte aanpak.
LEES: Inwoners leer hoe om op regte manier te help
Hy het aanbeveel dat mense nie iets vir iemand anders doen wat hulle self kan doen nie, maar om die taak saam met hulle aan te pak sodat hulle iets daaruit leer.
Takke het hulle suksesverhale gedeel en mekaar bemoedig om ‘n verskil in hul gemeenskappe te gaan maak. Die Onderberg-tak is daar weg met klomp idees en hoop om nog vrywilligers by hul geledere te voeg.
LEES: Samesmelting van twee takke laat Helpende Hand nou sterker staan
Mpumalanga-streeksorganiseerder, Alisha de Lange was baie dankbaar oor die vrywilligers se deelname aan die vergadering en hulle diensbare harte. “Hierdie mense gebruik hul eie tyd en soms hulpbronne om Helpende Hand se voetspoor in hulle dorpe duidelik te maak. Ons kan miskien nie ‘n hele gemeenskap verander nie maar daar waar ons betrokke is, maak ons ‘n verskil, een-een op ‘n slag. En so verander ‘n gemeenskap. Baie dankie aan almal wat so onbaatsugtig ‘n verskil maak!” het sy gesê.
Vir meer inligting oor die plaaslike tak se projekte of om betrokke te raak, skakel Tienie Swart by 082-253-8965 of besoek Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga-streek se Facebook-blad.
