Local newsNews

Kinders leer hoe om hulself te beskerm

Tydens verlede week se Kinderbeskermingsweek het verskeie organisasies in die Onderberg saamgewerk om kinders van liggaamveiligheid te leer

KOMATIPOORT – . Die tema was “Werk saam om kinders te beskerm” en die organisasies het dit werklik ter harte geneem.

Go Purple Malelane en die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) het verlede Dinsdagoggend Komatipoort Akademie besoek en die plaaslike laer- en kleuterskoolleerlinge deur middel van ‘n poppekas oor die belangrike onderwerp geleer.

Amanda de Swardt van Go Purple het hulle touwys gemaak oor wat om te doen in ongemaklike situasies en wie om vir hulp te nader.

Charmaine Botha van die CMR gesels met ‘n paar kleuters.

Hulle is aangemoedig om nooit stil te bly nie, maar om oor hulle probleme met iemand wat hulle vertrou te praat soos ‘n ouer, familielid, onderwyser, ‘n maatjie se ouer of dominee.

Die plaaslike tak van Solidariteit Helpende Hand het ook gesê dat daar deurentyd bewustheid oor kinderbeskerming moet wees. Daarna het hulle vir elke leerling ‘n pakkie skyfies en ysies uitgedeel. Hulle het elkeen ook ‘n spesiale sertifikaat gekry om hulle aan die les te herinner.

Die dames van die CMR, Go Purple en Helpende Hande het kragte saamgespan om die kinders te leer en te bederf.

Die kinders het die vrolike vertoning geniet en die organisasies hoop die bewusmakingsaksie ‘n gereelde geleentheid te maak. Woensdag het die organisasies Desiland Kleuterskool in Malalane besoek en die kinders ook hier ook riglyne gegee hoe om hulself te beskerm.

LEES: Helpende Hand-vrywilligers bemoedig en bemagtig by vergadering

Amanda de Swardt en haar poppekas (en vennote) het Vrydag by Horizon Academy gaan besoek aflê en liggaamveiligheid asook bewusheid oor mensehandel geskep.

Benewens die talle gevalle in die Onderberg van kinders wat gemolesteer en verkrag word, was daar ook al ‘n paar gevalle van mensehandel. Gesinne wat finansieel sukkel, verkoop hulle jong dogters aan plaaslike mans of mense in die buurlande vir kos of geld.

LEES: Moenie mishandeling net stil-stil verdra nie

Dit word onder die dekmandel van lobola gedoen en die jong meisies word dan wreed behandel en verkrag deur baie ouer mans.

Go Purple Malelane, in samewerking met Malelane SAPD, hoop om bewustheid te skep dat sulke aksies onwettig is en dat die meisies by die polisie en organisasies soos Go Purple en die CMR kan aanklop om hulp.

LEES: Vrou in pers help om slagoffers te bemagtig

Volwassenes wat bewus is van enige mishandeling, is verplig om dit by die owerhede aan te meld.

Vir meer inligting oor liggaamveiligheid en mensehandel, skakel De Swardt by 072-371-8993. Die CMR in Komatipoort kan by 013-793-8391 of cmrkomatipoort@cmroos.co.za gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button