Local newsNews

Xander droom oor die wêreld se topskool

Somerset-Wes by die Oakfields Kollege? "Nee, Juilliard." Dit is 'n jaar sedert Laevelder met Innibos se jongste kunstenaar, Xander Goosen (16) gesels het.

MBOMBELA – Sy planne was om ná skool by Oakfields- musiekteater te studeer, maar intussen het hy ‘n liefde vir drama ontwikkel.

“Drama of musiek? Ek het nog ‘n hele paar jaar om daaroor te dink. Hoekom kan ek nie groot drome hê soos om by die wêreld se topskool vir uitvoerende kunste, Julliard te studeer nie?” vra Xander tong in die kies.

Xander het in 2015 Hoërskool Nelspruit se Idols-kompetisie gewen en was uitgenooi om op die KMI Airport-verhoog te sing.

Vanjaar kan bosgangers na nuwe, jong en plaaslike talent uitsien.

“Ek sien ongelooflik baie uit om weer my passie by Innibos te kan uitleef – nie net omdat ek gaan optree nie, maar ook omdat ek saam met my ouers, SANHU Produksies, as kamera-assistent, klankman en aanbieder te werk.

“Dit is ‘n wonderlike geleentheid waar ek van my musiekhelde soos Matthew Moll en Elvis Blue kan sien,” het Xander gesê.

Die jongman het aan die begin van die jaar na Curro Nelspruit geskuif, onder andere omdat hulle musiek as vak aanbied.

Hy het volle erekleure vir kultuur na afloop van sy meriete in 2016 en 2017 ontvang.

“Musiek is ‘n groot deel van my lewe. Ek het die geleentheid by Curro met oop arms aangegryp.”

Onderhoofseun van Curro, Aiden Glass en sy elektriese kitaar deel vanjaar met Xander die verhoog.

Xander het aan die einde van 2016 met klavier begin.

By verlede jaar se Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe het hy vir die nasionale ronde gekwalifiseer waar hy vyf goue en drie silwermedaljes vir drama en sang verower het.

Hierdie jaar het hy weer vir die finale ronde gekwalifiseer, maar dié keer vir sang, drama, klavier, kitaar en modelwerk.

Met sy eerste intrapslag in redenaars by Oppie Tong Af, het hy met ‘n A+ in die kategorie Afrikaans: individueel voorbereid gespog.

Hy is vir die nasionale ronde, wat Oktober in Gauteng plaasvind, gekies.

Sumi Naudé, ook van Curro, en Xander het ‘n tweespraak by die plaaslike radikale redenaars se eisteddfod gelewer en het die hoogste punte in die kategorie verower.

Die finaliste vir die finale ronde moet nog aangewys word.

Xander het selfs sy eerste medalje ooit by ‘n atletiekbyeenkoms in Lydenburg verower toe hy ‘n derde plek in spiesgooi los-gegooi het.

“Noem my sommer Xander Tydsbestuur Goosen. Ek weet nie hoe ek dit regkry om tussendeur my eksamen, drama, musiek, sang, klavier én modelwerk te beoefen nie. My beplanning het my nog nie in die steek gelaat nie, maar dit is te danke aan my onderwysers,

Frances van Niekerk (drama), Theresa Prinsloo (musiek) en Walter Fourie (sang).”
Xander en Aiden is Vrydag om 12:30 by die KMI Airport-verhoog te sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button