Local newsNews

Die twee is gryser en wyser na 31 jaar

As jy nog nie die geleentheid gehad het om Sandra Prinsloo en John Kani 31 jaar ná hul opspraakwekkende vertolking in August Strindberg se Miss Julie weer sáám op die verhoog te sien nie, het jy dié week die geleentheid met vyf aanbiedings van So ry Miss Daisy.

In 1985 was dié twee akteurs saam in die Markteater in Johannesburg in dié Strindberg-drama van liefde wat om die dood nie kan slaag nie – die een verliefde wit en welgesteld, en die ander swart en ‘n werker. Drie dekades later vertolk Sandra in So ry Miss Daisy die rol van ‘n ouer wordende welgestelde wit vrou (Miss Daisy) wat steun op Kani in die rol van Hoke, die ewe bejaarde swart chauffeur, om haar rond te ry.

Die verhaallyn is geen geheim nie. Wie het nie Jessica Tandy en Morgan Freeman gesien in Bruce Beresford se Oscar-bekroonde Driving Miss Daisy nie? Wat in dié Afrikaanse weergawe wel die aandag trek, is die manier waarop die gegewe in die bekende rolprent aangepas word vir die verhoog, asook die manier waarop Amerikaanse omstandighede oorgeplaas word na ‘n Suid-Afrikaanse konteks.

Min Suid-Afrikaanse teatergangers het waarskynlik die verhoogproduksie van Alfred Uhry se Miss Daisy gesien, hoewel menigeen prentjies in die kop het van die fliek met die Georgia-huis kompleet met Afro-Amerikaanse bediende, Idella, die 1948 Packard en wat nie al nie. Rocco Pool se stelontwerp, wat strook met regisseur Christiaan Olwagen se gestroopte benadering, verplaas jou volledig na die wêreld van die teater wat die verbeelding sodanig aktiveer dat die fliekweergawe verder as die agtersitplek in die rigting van die kattebak vervaag.

Dit is ‘n stel wat kan deug en waarin gemakstoele in ‘n oogwink motorsitplekke word. In Saartjie Botha se vertaalde en verwerkte weergawe word Martin Luther King jr. dalk net té maklik vervang met Nelson Mandela en is voorlees uit Long Walk to Freedom eweneens dalk ‘n net té banale plaasvervanger vir Southern Pumpkin Pie. Die (Joods) Amerikaanse en (Afrikaans) Suid-Afrikaanse omstandighede (en tydsgewrig) lol as dit blatant neffens of oor mekaar geplaas word.

Om begrip te vorm vir die tydsverloop in Daisy en Hoke se verhouding (‘n tydperk van 25 jaar) word die gehoorlid se verbeelding optimaal ingespan. Waarin Sandra en John slaag, is om afgesien van die vermeende openheid van Miss Daisy en die waardigheid en trots van Hoke, iets te laat deurkom van die geradbraakte verhouding wat rasse- en klasseverskille meebring.

Die gepaardgaande ongemaklikheid wat ‘n mens as gehoorlid ervaar is ‘n pluspunt. Vriendskap oorbrug dié gaping. Vanuit ‘n regie-oogpunt is dit ‘n jammerte dat dit emosie moet wees wat aan die einde uitkoms moet bied. Dié bespreking is geskoei op So ry Miss Daisy soos aangebied by Aardklop in 2016.

So ry Miss Daisy is te sien by Laerskool Nelspruit op Dinsdag 4 Julie om 19:00, Woensdag 5 Julie om 09:00, Donderdag 6 Julie om 14:00, Vrydag 7 Julie om 19:00 en Saterdag 8 Julie om 09:00. Tydsduur: 65 minute. Prys: R142.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button