Local newsNews

Dit was ware liefde met die eerste oogopslag

Kyk! Ek het lanklaas 'n paartjie soos Steval Puma-speler, Willie Engelbrecht en die beeldskone sangeres, Franja du Plessis ontmoet wat smoorverlief is.

Die twee se verhouding het reeds op hoërskool vlamgevat.

Willie het in sy matriekjaar by Hoërskool Die Wilgers, Pretoria ingestap nadat hy besluit het dit gaan sy rugbyloopbaan na nuwe hoogtes neem.

“Ek en my pa het op die paviljoen, tydens ‘n derby-wedstryd tussen Wilgers en Willo Ridge, gesit toe ek Franja in die hoek van my oog opmerk. Ek het vir my pa gesê, ‘daar loop my trouvrou’.”

Willie Engelbrecht en Franja du Plessis.

Willie het Franja op Facebook bevriend en op Messenger met haar begin gesels.

“Ek het nie agtergekom dit is Willie nie. Ek het gedink ek het met een van sy pelle gesels. Die eerste keer toe ek verby hom loop, het ek gedink, ‘Wow! Hy’s cute’. Hy het ‘n wit serp aangehad en het presies soos Jacob van Twilight gelyk. Dit was ook later sy bynaam op skool,” vertel Franja.

Hoewel dit liefde met die eerste oogopslag was het Franja nie aan die begin belanggestel nie. Hy het altyd na skool vir haar gewag en haar skooltas kar toe gedra, en pouses het hy haar met ‘n muffin en fruity puffs bederf.

Willie Engelbrecht en Franja du Plessis.

Op pad interhoër toe op Pilditch, het Franja vir een van haar vriendinne gevra sy moet luister of hy kan sing.

“Ek het langs Willie gaan sit om saam met hom musiek te luister. Die eerste keer wat ons hande vasgehou het, was op ‘n netbal- en rugbydag op pad terug.”

Op 12 April 2011 het Willie vir Franja gevra om sy meisie te wees.

“Ek het saam met hom kar toe geloop. Hy het vir my ‘n hangertjie gekoop en natuurlik het ek ja gesê.

Ons was laat vir klas, maar dit was so spesiaal. Met ons eerste amptelike date, het Willie my dieretuin toe gevat.”

Wanneer het die groot ‘l’-woord ter sprake gekom?

“Ons was op ons plaas in Thabazimbi. Willie het net ewe skielik uitgestap en ek het eers gedink hy’s vies.

“Ek het buitentoe gegaan en hy het net gesê daar is iets wat hy vir my wil sê, maar hy weet nie hoe nie. Ek het toe vir hom gesê ‘ek is lief vir jou ook’.”

Willie het Franja verlede jaar by die botaniese tuin in Pretoria gevra om te trou.

“Ons het gaan piekniek hou en ek het dit glad nie verwag nie. Hy het my na ‘n waterval toe gevat en my gevra. Ek het begin huil en moes eers my trane sluk om uiteindelik ja te sê.”

Willie speel sedert die begin van die jaar vir die Pumas. Hy het na skool vir Tukkies se Varsitybeker-span uitgedraf en het ook vir die Blou Bulle se o/21’s gespeel. Hy het rugby vir die Valke gespeel en was op ‘n stadium ook by die Limpopo Blou Bulle betrokke.

Franja tree Vrydagaand op die Standard Bank-verhoog saam met haar ma en een van Suid-Afrika se gunstelingsangeres, Juanita du Plessis en haar broer, Ruan op.

Sy sal ook by verskeie kuierverhoë te sien wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button