KYK: Mbombela-inwoners op die uitkyk vir losloperleeu
Lugsteun en spesialis-spanne word ingespan om ’n leeu in die Mbombela-gebied op te spoor en te vang.
Een van twee jong maanhare wat vermoedelik uit die Nasionale Krugerwildtuin ontsnap het, word steeds vermis. Die groot katte is glo drie weke gelede die eerste keer naby Crocodile Gorge langs die N4 opgemerk.
LEES OOK: Die Laeveld is leeuwêreld
Leeuspore is vanoggend, 1 Junie, deur ’n inwoner, Neels Volshenk, in Snymanstraat naby die Little Loftus Sports Pub in die Uitkyk-area afgeneem. Siphiwe Shungube, woordvoerder van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad het bevestig dat die oorsprong van die leeus onbekend is.

Shungube het bevestig dat die parkeraad saam met Wildlifevets en Saphire Blue werk om die dier te help vang. ’n Helikopter en hommeltuie word gebruik om die leeu op te spoor.
LEES OOK: Die Laeveldleeu trap diep spore in SA lesers se harte
“Ons het daarin geslaag om een mannetjie te pyl, wat veilig in ’n hok is, maar die ander een is steeds vermis,” het Shungube gesê.
Hy het erken dat die soektog uitdagend is weens die digte bosveld in die gebied.

Shungube het inwoners ook gewaarsku om nie KI-gegenereerde foto’s of vals inligting oor die dier te versprei nie.
LEES OOK: Leeu-waarskuwing naby Witrivier ontaard in sosiale media-sirkus
“Individue sal deur die parkeraad vervolg word indien hulle enige vals inligting versprei,” het hy bygevoeg.
Hy het inwoners aangemoedig om waaksaam te wees en ’n foto te stuur indien hulle die leeu sien.
