Dowwe (én Dowe) Dolla word staande toegejuig by Innibos
Sy verstaan nie die selfoongenerasie nie.
Dowwe Dolla het nou die ouderdom bereik waar sy groot besluite moet neem. Haar biologiese horlosie tik al hoe vinniger en haar pelle is doodbang sy gaan kinderloos bly. “Dis ‘n groot besluit,” sê sy met ‘n frons. “Gaan ek ‘n hond of ‘n kind kry?” vra sy. “Met ander woorde, gaan ek my Persiese matte of die res van my lewe laat verwoes?”
Dis maar een van die vrae waarmee Dolla worstel.
Hedendaagse verskynsels soos Fifty Shades of Grey en mans wat hul kramende vrouens op video vaslê, is vir haar een te veel. Maar wat haar behoorlik laat les opsê, is die hêshtêg-trend en die kuberruim.
Dolla meen dat Twitter se blou kleur nie sin maak nie. “Mense raak so bitsig op Twitter, hul kleur moet eerder rooi wees. Kyk, mense baklei daar dat jy net hêshtêgs sien vlieg,” sê sy.
Die kwaadword-tendens is egter nie ‘n sosiale mediaprobleem nie, maar ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel. “Die mense word kwaad oor enigiets – ons hou van kwaad word,” sê sy peinsend.
Sy is nou nie meer net kwaad vir Zumpies nie. Sy kry hom ook jammer. “Hy is toe onder die hêshtêgs. #Nkandla #paybackthemoney #sewehinderdenietsklagtes #africaisthebiggest continent… Hy moet belê in #silenceisgolden!” beveel sy aan.
“Dis so maklik om kwaad te word op Twitter. Jy kan vinnig ‘n middelvinger wys en dan verdwyn – met hêshtêgs en emoji’s,” sê sy. Veral middeljarige Afrikaanse mans is volgens Dolla befoeterd. “Hulle het gevaarlike bekke.
Dis goed dat hulle stiller is deesdae,” sê sy beslis.
Sy skinder ‘n bietjie oor mans en hulle braaigewoontes. “Hulle moet ook eers skreeu. Vir so 40 minute of so,” sê sy.
“Soos die vloekwoorde uitvloei, vloei die drank in. En dan praat hulle oor karre en word gelukkig en dans om die vuur.” Die geluk hou ook net só lank totdat die hêngover toeslaan. “Want mans meet die sukses van hulle partytjies aan hoe erg hulle hêngovers is,” sê sy.
Ouma Dowe Dolla maak haar debuut.

Sy verstaan nie die selfoongenerasie nie. “Hulle stuur vir mekaar LOL – wie lol met wie?” vra sy. Ouma verlang terug na die dae to Chris Barnard se huwelike en Glenda Kemp met die slang groot nuus was.
“Wat is daar nou aan die Huisgenoot? Mislukte huwelike, korrupsie, seks en vrot rolprente,” sê sy. “Daar word deesdae in Suid-Afrika te veel movies geskiet – en te min moviemakers!”
Ouma word weer verruil vir haar kleindogter wat ten slotte oor mense wat emigreer gesels. Dis nie vir Dolla ‘n opsie nie. Hier is te veel spesiale goed in Suid-Afrika. “Soos Mrs Balls, Emsie Schoeman, Miemie Coertze, Miriam Makeba, die Reënboognasie en Dowwe Dolla!” sê sy voor die gehoor haar staande toejuig met ‘n oorverdowende applous.
