Rian plaas homself onder die soeklig
Niemand is bestand teen Rian van Heerden nie. 'n Geheim is net 'n geheim totdat Rian jou daaroor uitvra.

As omroeper by OFM, Tuks FM en Jacaranda FM het hy menige gas in sy ateljee bloedrooi laat bloos. En nou is dit sy beurt.
In Rian met Rian gesels hy oor alles en nog wat. En niks is off-limits nie, want hy is ‘n gas in sy eie Innibos-ateljee.

Hy skop af met ‘n onthulling: “Ja, ek was tydens Innibos 2013 in ‘n vuisgeveg betrokke,” beken hy. Dit het gebeur nadat hy hom in ‘n “rivier vol tequila” vasgeloop het. “Toe’s ek en Maljan MacDonalds toe,” vertel hy. Maljan het bestuur en in die kar agter hulle ingery. Rian klim toe maar uit, breek ‘n outjie se bril en bevind homself aan die ontvangkant van ‘n paar klappe.

Hy was nog nooit ‘n ratse Karatekid nie. Rian was ‘n vet kind. “Ek was die tweede dikste kind in Lichtenburg,” onthou hy. Hy het nie’n kosblik skool toe geneem nie, maar ‘n broodblik. En hy’t grondboonbotter saamgevat kerk toe vir die nagmaalbrood. Daar is egter iets wat Rian nie eet nie – hy meen garage pies is nie vir nugter mense nie.

“Vertel ons van die gay ding,” vra Rian homself. “Jy word gay gebore,” begin hy. Dis iets wat in die natuur gebeur. Hy vertel dat sebravinkies van dieselfde geslag mekaar verkies. “Daar is dan bere in Indonisië wat orale seks op mekaar beoefen!” sê hy. Dis vir hom baie vreemd dat dit altyd die vet, lelike mans is wat verklaar: “Ek het nie probleme met gay mense nie, maar hulle moet my net uitlos.” Moenie bekommer nie, meneer.

Daar is dié wat beweer dat homoseksualiteit deur ‘n gay demoon veroorsaak word. Sy naam is glo Sitri. “Laat ek nou vir jou sê, once and for all: as jy gay is is jy gay,” maak hy klaar met die onderwerp.
Sy vertellings is lukraak. Dit is nou en dan onsamehangend en ‘n bietjie ‘té.’ Vir aanhangers wat Rian gewoond is, is dit nogtans skreeusnaaks. “Dis maar die Rian-manier,” sê een na die tyd.

Hy vertel van sy reis na Meksiko waar hy gevra is om ‘n kroeg te verlaat nadat ‘n ou dwarsdeur ‘n tafel geval het. Sy herinneringe sluit Strips and Chips-aande in. “In die 90s kon jy ‘n chip en ‘n strip kry teen R5,” onthou hy.
Dis tyd vir nog ‘n terugflits. In sy tye as Tuks FM-omroeper was daar ‘n kat wat by die ateljee rondgehang het. Die kat se naam was Piepie. Hy het herpes gekry. “Wie ookal die vorige aand Bloodhound Gang se The roof is on fire (ongesensor) gespeel het, moes vir Piepie sy herpespille gee,” onthou hy. “Katastrofies,” is Rian se kommentaar.

En dan is daar die voorval by OFM waarna Rian geskors is. “Die mense het gesukkel om aan my gewoond te raak.
Hulle het minder van my gehou as van langbroeke,” sê hy. “Toe ek die woord ‘bakgat’ gebruik het, het iemand my gebel om op die lug te kla oor my taalgebruik,” sê hy. Een van sy luisteraars was ene Frans. “Hy’t groot probleme gehad met die tokkelos,” onthou Rian. Frans bel toe in en Rian vra vir hom: “Wat presies doen die tokkelos met jou in die aande?” “Hy vat aan daai ding van my,” het Frans gese. “Totdat hy spoeg!” Dit was Rian se laaste oomblik op OFM.

“Wat sal jy mis by Jacaranda?” vra Rian. “Good Morning Angels,” antwoord hy dadelik. “En Kidsquiz.” Oplaas word daar Kidsquiz gespeel. Die prys is ‘n bottel Jose Cuervo.
En natuurlik sluit Rian af deur homself vir ‘n tequila te nooi.
