Local newsNews

Lesers meegevoer na wêreld van taal

Die Sappi Boeke-crawl het geen bekendstelling nodig nie.

As jare lange deel van die Innibos-repertoire is dit teen hierdie tyd reeds bekend as een van die mees suksesvolle geleenthede wat die fees bied.

Liefhebbers van die woorde wat so milddadig en sonder skroom uit die Afrikaanse skrywerspen vloei, mis hierdie geleentheid vir niks nie. En met rede. Ons reënboogland is ryk aan skrywers wat herhaaldelik bewys dat poësie nie tot die digkuns beperk is nie, maar is deurlopend in alle genres sigbaar.

Kan daar nog ‘n taal op hierdie aarde wees waarin alliterasie, assonansie en onomatopee so “lekker” op die oor val soos in Afrikaans? Dít is te betwyfel.

Etienne van Heerden

Van alle plekke, skop die geleentheid af in ‘n ietwat jolige bus. Feesgangers wat kans sien om die kronkelpad na Kaapsehoop per bus aan te pak, ìs beslis lief vir lees, en vir luister.

Dit is immers die hoofmaal wat die spyskaart bied: kunstenaars wat voorlees en sing vir ‘n gehoor wat met afwagting nie net luister nie, maar ook hoor. Kort- en spanningsverhale, romans, poësie en lirieke is alles in een program wat vier uur lank is. Dit is onmoontlik om die volle program in detail te beskryf: Daarvoor is dit té intens en té ryk.

Hierdie skrywery is maar net ‘n vlugtige lusmaker vir die volgende crawl.

Andriëtte

Kaapsehoop is ‘n Laeveldse juweel en dis amper ondenkbaar dat die produksie in enige ander milieu sou kon slaag. Die kunssinnige geaardheid is opvallend in elke huis en restaurant; so met die troppie wildeperde wat rustig en skynbaar onbewus van die gewoel eenkant wei.

Bohemian Groove Cafè, ‘n gepaste naam daarvoor is die eerste stilhouplek. Dié kuierplek is boheems en eksentriek-anders. Dalk net soos Lerina Erasmus, welbekende aktrise en skrywer. Sy lees eerste ‘n spanningstuk uit Die Leliemoordenaar voor en daarna uit beide volumes van Die Mannheim-sage. Sy het jare gelede die radiodrama met dieselfde naam geskryf wat ook as latere televisiereeks onthou word. Albert Frost moet feesgangers met sy bluesmusiek vermaak, maar die klanksisteem het blykbaar die gees gegee. En wat is blues nou sonder bas- en akoestiese kitaar? Maar, nou ja…

Jo Black

Die heerlike blikbekertjie Van Loveren Muskadel by Long Creek Lodge maak vinnig op vir die teleurstelling. Hier wag Stef Bos, Nederlandse Suid-Afrikaner, om feesgangers met voorlesings en musiek, maar ook wyshede en kwinkslae, te vermaak. Hy het reeds volksbesit-status bereik en het geen bekendstelling nodig nie. Stef is ‘n woordtowenaar en -meester, ‘n gebore skrywer. Hy lees ‘n gedig voor wat maar die vorige aand uit sy pen gevloei het na aanleiding van ‘n onverwagse vraag wat sy seun hom gevra het: Wat gaan jy word as jy dood is? Later wil ek met jou dans/sonder dat jy weet dat ek jou in my arms hou.

Stef Bos

Teen die tyd dat die groep by die Silvermist Country Inn Waenhuis aankom, is ‘n heerlike maalvleisvetkoek en beker koffie welkom. Deon Lotz lees kortverhale voor en die ritmiese woorde bevestig maar net weer dat Afrikaans poëties van aard is en dat kortverhale die ideale, alhoewel dalk ook onverwagse genre is om met woorde te speel. Die ruwe, roerende rockklanke en lirieke van Jo Black, met sy kenmerkende baard en tatoeëermerke, raak iewers diep aan elkeen se hart.

En natuurlik wag Etienne van Heerden in die Silver Mist-kapel. Die ambiance is heilig. Heilig vir meer redes as dat die kapel ‘n Godsplek is. Menige entoesiastiese leser met ‘n diep liefde vir literatuur beskou Etienne immers as een van die topskrywers en taal-akademici wat Afrikaans nóg opgelewer het.

Lerina Erasmus

Hy lees voor uit sy splinternuwe werk, Die wêreld van Charlie Oeng. Ook die aangrypende slot uit ons geliefde Toorberg en ‘n hardebaardstuk uit 30 Dae in Amsterdam. Saam met hom sorg sanger Andriëtte dat die Sappi Boeke-crawl op ‘n hoogtepunt eindig.

Ons kan doodeenvoudig nie wag om volgende jaar weer deur die towerwêreld van boeke te crawl nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button