Voortrekkerskool sal wel uit die as verrys
Dit is nog onseker watter stappe geneem gaan word met die herbou van die ou Voortrekkerskool in Kerkstraat wat Vrydagaand afgebrand het, ofskoon talle organisasies reeds gereed sit om te help.

LYDENBURG – Die gebou behoort aan die NG Moeder-gemeente. Die predikant, ds. Christie Smith is nog met vakansie aan die Suidkus, maar sê die wiele sal gou aan die rol gesit word met sy terugkeer later die week.
Steelburger/Lydenburg Nuus en die provinsiale bewaringsorganisasie, Mpumalanga Erfenis, het hulle reeds bereid verklaar om by ‘n geldinsamelingsaksie en die vind van borgskappe, betrokke te raak. Leon de Jager van die Sakekamer op Lydenburg, sê hulle staan ook gereed om te help.

Die polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting. Daar is moontlike verdagtes, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die 166 jaar oue pioniersgeboutjie is na berekening die oudste behoue westerse struktuur in sy oorspronklike toestand, in die provinsie.
Die gebou dateer uit 1851 en is in 1962 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die eenvertrek-grasdakgebou in die Suid-Afrikaanse pionierstyl, vorm deel van ‘n historiese gebouekompleks wat ook die ou Voortrekkerkerk uit dieselfde tydperk insluit, asook die huidige kerkgebou van 1985 wat gebou is in die neo-gothiese styl eie aan die Victoriaanse era van die tyd.

Talle historiese dokumente en meubels uit die Voortrekkertyd is in die skooltjie gehuisves. Baie hiervan kon betyds verwyder word voordat die dak inmekaar gestort het. Die skade moet egter nog bepaal word.
Lede van Mpumalanga Erfenis het reeds Sondag die toneel besoek. Die eenvoudige grasdakgeboutjie met sy kenmerkende, sogenaamde skaapboud-sygewels, kan maklik weer in sy oorspronklike staat herstel word, sê prof. Roger Fisher, ‘n lid van die organisasie en bekende Suid-Afrikaanse bewaringsdeskundige. Hy het pas uitgetree na twee termyne as lid van die Mpumalanga Provinsiale Erfenisraad.

Duncan Ballantyne, voorsitter van Mpumalanga Erfenis – ‘n geregistreerde burgerorganisasie sonder winsbejag – het Saterdag gesê, te veel geboue van onskatbare erfeniswaarde het die afgelope tyd in die provinsie deurgeloop.
Daar is die NZASM-gebou op Waterval Boven wat as munisipalekantore gebruik is en toe deur betogers aan die brand gesteek is, die Berlynse sendingkerk op Botshabelo wat weens swak erfenisbestuur in duie begin stort het, die reduksiewerke by Pilgrim’s Rest wat as moontlike wêrelderfeniskompleks gelys was voordat dit deur onwettige goudsoekers gestroop is, en die stadsaal op Belfast wat al enkele jare as uitgebrande bouval in die dorp se munisipale tuin staan.

Ballantyne sê hierdie toestand vra vir ‘n noodberaad onder bewaringslui en die owerheid in die provinsie.
Dis nie net erfenisbronne wat verlore gaan nie maar dit raak ook die belangrikheid van toerismebestemmings.
Toerisme bly een van die belangrikste ekonomiese pilare van die provinsie. Dit is almal se plig om dit in stand te hou.


