OPVOLG: Sexting laat polisie, onderwysers en ouers kopkrap
"Die polisie neem dit baie ernstig op," het stasiebevelvoerder brig. Gerrie Agenbag gesê.
MBOMBELA – Dit is ‘n week sedert selfvervaardigde kinderpornografie in die Laeveld uitgelek het. Ouers, skoolhoofde en die polisie krap kop oor vele fasette van die fenomeen – van wat minderjariges noop om naakfoto’s van hulself te deel, tot hoe dit hanteer moet word.
Laevelder het onlangs berig dat gevalle van minderjarige sexting – die stuur van verleidelike boodskappe via selfoontoepassings – onlangs by die polisie aangemeld is. Hierdie praktyke kom op die skepping, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie neer.
“Die polisie neem dit baie ernstig op,” het stasiebevelvoerder brig. Gerrie Agenbag aan Laevelder gesê.
Volgens ‘n betroubare bron kan ondersoeke bemoeilik word deur nog ‘n euwel van die digitale era – selfoonskaking of hacking.
Laevelder het verlede week oor WhatScan berig, ‘n toepassing wat kuberkrakers misbruik om WhatsApp-profiele te skaak. Dit gee die gebruikers die vermoë om een profiel op twee toestelle te gebruik. Die bron het verduidelik dat profielskaking aanspreeklikheid aan die kant van die vermeende sexter kan negeer, omdat dit moeilik is om te bewys dat die profielhouer – en nie die skaker nie – die gewraakte boodskappe gestuur het.
Wetstoepassers is nie die enigstes wat kopkrap nie. Skoolhoofde moet ook van tyd tot tyd bontstaan wanneer leerlinge se misbruik van aanlynplatforms moeilikheid veroorsaak.
Hoërskool Nelspruit het in ‘n pers-verklaring gesê dat dit die probleem ernstig opneem en het bevestig dat sulke situasies sensitief en met deernis aangespreek word. Hoërskool Bergvlam se hoof, Annemarie Kleynhans, het aan Laevelder gesê dat kinders soms by aktiwiteite betrokke raak sonder om te besef watter gevolge hul aksies inhou. “‘n Mens is bewus daarvan en hanteer voorvalle soos dit opduik. Ons bestuur die situasie van dag tot dag,” het sy gesê.
Penryn College hanteer ook voorvalle soos dit opduik. “Wanneer so iets gebeur, kontak ons ouers en sien ons toe dat berading beskikbaar is,” het Chris Erasmus, hoof van Penryn College, gesê. Hy het bygevoeg dat die skool kenners op die gebied genooi het om met leerders en ouers te gesels. “Ons kan dit nie baasraak sonder om hande te vat met leerders se ouers nie,” het hy gesê.
Curro Nelspruit se uitvoerende hoof, Paul Viljoen, wou nie kommentaar lewer nie.
Laevelder het voorheen berig dat Timothy Kieswetter ‘n oplossing het vir die probleem – om tieners se seksuele intelligensie te verhoog. Hy het vandeesweek benadruk dat iemand met ‘n hoë seksuele intelligensie nié iemand is wat “kennis dra van en betrokke is by alle seksuele dinge nie, maar iemand wat ingelig is oor die onderwerp en dit gemaklik kan bespreek.” Die verandering van ‘n tiener se gedragspatrone kan, volgens Timothy, nie verwag word sonder dat sy seksuele intelligensie verhoog is nie.
“Totdat ons nie so gemaklik oor seksualiteit kan praat soos wat ons oor rugby praat nie, sal ons altyd uitgedaag word met seksuele gedrag waaroor ons nie beheer het nie,” het hy gesê. Timothy het inwoners uitgenooi om sy opvoedkundige komedie, Die Stripshow, op 18 November by Emnotweni te kom kyk.
“In hierdie komedie strip ek nie met my klere nie – alhoewel ek die lyf het daarvoor,” het hy so ewe aan Laevelder gesê. “Ek strip al die seksuele taboes en mites met woorde wat jou, die kyker, met ‘n hoër seksuele intelligensie sal laat,” het hy afgesluit.
Skakel iTickets om kaartjies te koop vir Die Stripshow by 086-1000-291.




