Seniors wys hulle is nie te oud om rolbalvaardighede aan te leer nie
Daar is heelwat gelag en gejuig op die plaaslike rolbalbaan toe die Guardian Angels en omgewing se seniors hulle verlede Donderdagoggend op die baan begewe het.
MALALANE – Die Guardian Angels het verlede Donderdag hulle maandelikse kuiergeleentheid aan Nen Richards opgedra. Sy is op 1 Augustus oorlede en hulle het die geleentheid by die plaaslike rolbalbaand met ‘n huldeblyk aan haar begin.
Tannie Nen en was lank lid van die Guardian Angels en het vriende regoor die land gehad. Haar vriende in die Guardian Angels het vertel dat sy vol liefde, ‘n vrou van God en ‘n persoon met vele talente was.
Sy het baie op die radio gepraat en boodskappies en briefies aan mense dwarsoor die land gestuur. Sy het ook daarvan gehou om gediggies te skryf. Haar laaste gedig is op ‘n boekmerk gedruk en aan die seniors uitgedeel ter nagedagtenis aan die ystervrou.

Die groep het tydens die kompetisie aan tuisgebakte koekies, net soos tannie Nen daarvan gehou het, gesmul.
Piet en Marina Smith, twee van die Malelane Rolbalklub se beste spelers, het die seniors touwys gemaak en die vriendskaplike wedstryd het afgeskop.
Onder die spelers was ‘n paar wat al voorheen rolbal gespeel het en ‘n hele paar wat nog nooit op ‘n baan was nie. Met aansporing en ‘n paar wenke het die nuwelinge tot die sport mettertyd beter reggekom.
Teen die middaguur het die son op die baan neergebak en het die groep in die klubhuis skuiling gesoek. Daar het hulle koue sap en eetgoed van die Guardian Angels en The Rustic geniet en saamgekuier voordat almal huis toe is.
Die Guardian Angels se volgende kuierdag is in September. Soos vorige jare beplan hulle om die bejaardes tydens SANParke Week vir ‘n daguitstappie na die Nasionale Krugerwildtuin te neem.
Suid-Afrikaners kan die wildtuin vanjaar van 10 tot 14 September gratis besoek. Dit is deel van SANParke se poging om meer plaaslike mense die geleentheid te gee om die land se natuurerfenis te besigtig.
Vir meer inligting oor die Guardian Angels en hulle aktiwiteite, skakel gerus vir Alta Robberts by 082-493-4261.
Die Guardian Angels vergader elke eerste Maandag van die maand om 12:00 by die NG Kerk Malelane en belangstellendes is welkom om aan te sluit.

