Local newsNews

Delikate laparotomie red Koivis se lewe

Engelbrecht het verlede week in 'n operasie wat ongeveer 40 minute geduur het, 'n reusegewas met behulp van die eienaar Steven Smith, uit 'n koivis se buik verwyder.

MBOMBELA – Plaaslike veearts, dr. Donnie Engelbrecht het al op verskeie vreemde diere soos iguanas en wilde voëls geopereer, maar min so interessant soos ‘n 40-sentimeter lange koivis.
Dit mag dalk onmoontlik klink, maar vir Engelbrecht wat al vir die afgelope 16 jaar by Van Wijkstraat Dierekliniek praktiseer, is geen uitdaging te groot nie.

Engelbrecht het verlede week in ‘n operasie wat ongeveer 40 minute geduur het, ‘n reusegewas met behulp van die eienaar Steven Smith, uit ‘n koivis se buik verwyder.

Dié vis met ‘n seldsame bloedlyn, al die pad van Japan af, wat oor drie dae in ‘n suurstofhoudende plastiese sak ingevoer is, se maag het begin opswel en dié se beweging is erg beïnvloed.


Smith, ‘n koiboer van meer as 20 jaar, wou aanvanklik die operasie self doen, maar Engelbrecht kon hom anders oortuig.
Smith wou nie sê presies hoeveel hierdie besonderse vis werd is nie, net dat dit
“baie” is.
Die delikate laparotomie, soortgelyk aan die wat op ‘n haai uitgevoer word, is nadat Smith narkose in die water toegedien het, op Van Wijkstraat Dierkliniek se operasietafel aan die gang gesit.
Terwyl die vis pens en vinnetjies in die lug gelê het, regop gehou deur ‘n toestel soortgelyk aan ‘n klien kampstoeletjie, het Smith suurstofryke water in sy kiewe gespuit om hom aan die lewe te hou. Sy hulp het Engelbrecht toegelaat om sonder moeite die vis se buik oop te sny en ‘n gewas so groot soos ‘n vuis te verwyder. Die vis sterk tans aan by ‘n aanhoufasiliteit en kon kort na die operasie heeltemal normaal swem.
So ‘n operasie loop egter nie sonder risiko nie. Engelbrecht vertel dat dit die tweede probeerslag was om op een van Smith se visse te opereer. “Met die eerste operasie was ons te versigtig, en kon ons nie die hele gewas verwyder nie. Die koi is kort na die tyd dood,” sê hy.

Lees ook: Geliefde Witrivier inwoner sterf in gru-ongeluk

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button