Ekovriendlik, vinnig en vrekmooi
Net die feit dat die i8 sedert sy amptelike bekendstelling in 2014 die wêreld se topverkoper-hibriedesportmotor is, behoort as 'n pluimpie vir BMW se witjasse te dien.

Toe BMW die i8 ongeveer vyf jaar gelede aan die wêreld vertoon het, het die groenbrigade byna in hulle ontbytsmoothies verstik.
Gewoond aan onooglike hibriedemotors (dink maar aan die Prius en Leaf) was dit haas ondenkbaar dat ‘n motor wat op die oog af soos ‘n supermotor lyk met bykans soortgelyke verrigting, enigsins in die ekovriendelike, vervelige wêreld van hibriedevoertuie kan bestaan.
Met die i8 kombineer BMW inpropelektriese aandrywing met ‘n kleinerige turboaangejaagde petrolenjin ten einde baie lae emissies vry te stel en terselfdertyd steeds verstommende verrigting te lewer.
LEES OOK: BMW 5-reeks bekendstelling
Die nuwe i8 Roadster is ‘n fees vir die oog met die futuristiese stilering ‘n treffer. Die Roadster is meer van ‘n oopdakker as ‘n afslaandak, met twee bulte agter die kopstutte wat skuins vloei na die stertkant.
Die wegvoudak is in werklikheid net die seilkappie wat die opening bo die twee sitplekke bedek, want ten einde die dakkie binne 15 sekondes agter die sitplekke te laat invou, is weggedoen met die twee piepklein sitplekke soos in die Coupé te vinde is. Die laairuimte agter is gevolglik vergroot na 100 liter teenoor die Coupé se 88 liter.

Visueel werk die dakopening egter uitstekend en met die deure wat na boontoe oopskêr, is die Roadster veel meer van ‘n aandagtrekker as die pragtige i8 Coupé.Die ingeneurs het ligte materiale gebruik om die bakwerk te versterk daar waar die Roadster bakintegriteit ingeboet het. Die gevolg was dat die oopdakmodel slegs
60 kg swaarder as die Coupé weeg. Met baie koolstofvesel wat in die bakwerk van beide modelle gebruik word, het die Roadster baie min bakstewigheid ingeboet in vergeleke met sy Coupé-stalmaat.
Terloops, die 2019 i8 Coupé-model is ook effe opgeknap om nie af te steek by die pragtige Roadster nie.
LEES OOK: Classic Ford styling an upmarket upgrade
Kopers kan nou kies uit vier nuwe wielontwerpe en twee nuwe bakkleure, terwyl beide i8 modelle met die nuutste weergawe van BMW se iDrive-stelsel toegerus is. Tydens die bekendstelling in die Kaap het ons die nuwe i8’s deur die pragtige Bolandse bergpasse gery. Veral die bronskleurige Roadster, die enigste van sy soort toe in Suid-Afrika beskikbaar, het baie aandag van bewonderaars geniet.
Onder die pragtige bakwerk is beide modelle egter meganies identies.Aandrywing geskied met behulp van ‘n 1,5 liter-turboaangejaagde drie-silinder-petrolenjin (soortgelyk aan die MINI) wat 170 kW se piekkrag na die agterwiele stuur deur middel van ‘n outomatiese sesgangratkas, terwyl ‘n elektriese motor op die vooras gemonteer is wat die voorwiele aandryf deur ‘n outomatiese tweegangratkas.

Kies jy om slegs op elektriese krag te ry, gaan jy 50 km kan aflê met die Roadster, terwyl die Coupé jou ‘n verdere 10 km sal kan neem.Weliswaar sal jy moet doekvoet ry. Dit is wel moontlik om in elektriese modus teen 105 km/h te ry.
LEES OOK: Hear about the BMW motorcycle lifestyle philosophy from three locals
Kies jy egter die mees energiedoeltreffende opsie, word laer kragtoevoer na die lugversorger en ander elektriese komponente gestuur sodat jy 120 km/h op die ooppad kan handhaaf. Ek vermoed dit sal op gelykpad moet wees met die hulp van ‘n effense briesie in die blaaie.
Gesamentlik lewer die elektriese motor en petrolenjin ‘n heel skaflike 275 kW se maksimum krag (in die vorige i8 was dit 266 kW) wat die Coupé in staat stel om die 0 tot 100 km/h-lopie in 4,4 sekondes af te blits. Kies jy egter die Roadster, neem dit effe langer teen 4,6 sekondes. Topspoed word elektronies beperk op 250 km/h.

Tydens ons bekendstellingsrit het ons die i8 Roadster meestal met die gesamentlike enjin- en batterykrag gery. Veral deur die bergpasse was die oopdakrit ‘n heerlike ervaring. Die enjinklank word welenswaar deur die klankstelsel in die kajuit verdiep, maar die diep gegrom wanneer ons die i8 deur die bergpasse gelooi het, was heerlik verslawend.
Aangesien die remstelsel energie wat tydens remming opgewek word terugplaas in die batterye (soortgelyk aan die tegnologie wat in Formule 1-renmotors gebruik word), was dit opwindend om die i8 se ongelooflike inlynversnelling in die bergpasse te ervaar, danksy die 250 Nm wringkrag van die elektriese motor wat onmiddellik beskikbaar is as jy die versneller trap.
LEES OOK: Only the exceptional grace 2018’s Concours SA
Dan het ons so hard as moontlik voor en deur die skerp draaie gerem om die battery weer te herlaai. Net om die proses van versnel en rem daarna weer, en weer en weer te herhaal!
Die gevolg was dat die i8 eerder soos ‘n V8-heuwelklimrenmotor as ‘n “groen” hibriedevoertuig gevoel het.
Uiteraard herlaai die petrolenjin, wanneer in gebruik, ook heeltyd die batterye. Terug by die huis of kantoor, kan die kragkabel om die i8 se battery te herlaai sommer by die muurprop ingeprop word.

Die i8 se skerp hantering, goeie paddinamika met geen merkbare bakrol deur die draaie het beïndruk. Stuurgevoel en terugvoer is ook goed met die i8 se veerstelsel en onderstel wat ‘n ferm rit lewer sonder om enigsins stamperig of ongemaklik te wees.
LEES OOK: This lady knows how to get the job done
Daar is baie verrigtingmotors wat dieselfde en beter verrigting gaan lewer as die i8 teen minder as die R2 329 3000 pryskaartjie wat die BMW-hibriede dra.
Die i8 Coupe en Roadster is egter visueel meer supermotor as sportmotor en met sportmotorverrigting en ekovriendelike verbruiksyfers, kan jy maklik Superman in ‘n groenpakkie wees.
