Twee vroue ontvoer, wreed aangerand
Twee vroue herstel in die Middelburg Hospitaal nadat hulle die naweek ontvoer en deur hulle aanvallers gemartel is.

ROOSSENEKAL – Die twee vroue is wreed aangerand tydens ‘n plaasaanval op Roossenekal Vrydagaand kort na 21:00.
Deon Broekman van Rapid Response het gereageer op die oproep van die plaasaanval waar ‘n vrou vanuit ‘n voertuig geslinger is naby Jaap se Hoogte op die pad.
Die vrou wat vanuit die voertuig geslinger is, Gina Otto, het aan nooddienspersoneel vertel dat beide sy en haar vriendin na die aanval in Otto se silver VW Polo gelaai is.
“Otto beweer dat haar vriendin in ‘n laken toegedraai is en eerste vanuit die kar gegooi is. Sy is na dit ook uit die voortuig gegooi,” verduidelik Broekman.
Broekman, Lydenburg SAPD, boere, vrywilligers en verskeie plaaslike sekuriteitsmaatskappye het dadelik begin om die gebied te fynkam. ‘n Uitkyk vir Otto se Polo is ook op verskeie groepe uitgestuur.
LEES MEER: 48 new classrooms allocated for Ehlanzeni district
Die span het na ‘n selfoonsein van Otto se foon terugbeweeg Lydenburg toe. Om 00:45 het Lydenburg SAPD die voertuig in Voortrekkerstraat gewaar en ‘n hoëspoed jaagtog het gevolg.
‘n Oor-en-weer skietery het uitgebreek en een van die verdagtes is noodlottig gewond. Hy is op die toneel dood.
Die ander verdagte het gevlug in Gustav Klingbiel en was teen druktyd steeds soek. Die tweede vrou is Saterdag gevind.
Nooddienste het haar op die toneel gestabiliseer. Sy was ook aangerand. Beide vroue is na Middelburg geneem vir mediese behandeling.
