Drie maande na ontsporing van trein lê wrak nog net so
Laevelder was Woensdag weer op die toneel en 10 verwronge goederetrokke lê nog net soos hulle omgeslaan het en oproes.

KROKODILPOORT – Drie maande het reeds verloop sedert ‘n vragtrein wat steenkool na Maputo vervoer, tussen Mbombela en Malalane ontspoor het.
Vragtrein ontspoor onder raaiselagtige omstandighede
Laevelder was Woensdag weer op die toneel en 10 verwronge goederetrokke lê nog net soos hulle omgeslaan het en oproes. Die ontsporing het in Augustus ongeveer halfpad tussen die stad en die dorp op die treinspoor langs die Krokodilrivier gebeur en die toneel is duidelik vanaf die N4 sigbaar.
Die trein behoort aan Transnet en talle navrae wat aan die maatskappy se woordvoerder Nothemba Dlali gerig is, het op dowe ore geval. Die oorsaak van die ongeluk bly steeds ‘n raaisel. Die erg beskadigde trokke is op die toneel gelaat en beamptes van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy is steeds daar om ‘n wakende oog oor die steenkool en metaal te hou totdat dit verwyder is.
Daar is oënskynlik nog nie met opruimingswerk begin nie. Hoewel dit lyk of die spoor onbegaanbaar is, het Transnet se Nothemba Dlali vroeër verseker dat dit oop is vir vrag- en passasierstreine.
Ongeveer vier vragte per uur word op dié spoor vervoer. Sy het ook in Augustus gesê dat die ongeluk ondersoek en die oorsaak daarvan later bekendgemaak sal word. Dit is egter maande later nog nie bekend nie.
Transnet se Mike Asefovitz het intussen lig op die onderwerp gewerp. Sien 16 Oktober se Laevelder.
