Vlammies se Eriza is ‘n SA gunsteling
Hoërskool Bergvlam se Erize de Lange is op pad na die internasionale ronde van die Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe (Satch) wat volgende jaar in Dallas, Texas beslis word.
MBOMBELA – Dié 16-jarige het haar vliegkaartjie na Amerika bespreek nadat sy ‘n algehele eerste plek in die Satch-model en -gesigafdeling verower het.
Die nasionale rondes het vroeg in Oktober by Sorex Landgoed in Centurion plaasgevind.
Daar het Erize 89 % in openbare redevoering, en ‘n gemiddeld van bo 85 % in toneelspel en modelleerwerk behaal.
Sy neem sedert Gr. 7 aan die talentidentifi-seringprogram deel.
Erize het oor die loop van die jaar ook op ander gebiede vele welslae behaal.

Sy het tot die tweede ronde van die ATKV-Spelathon deurgedring en is as Vlammies se ATKV-ondervoorsitter gekroon. Sy is deel van die redaksiespan van Vlammies se skoolkoerant, Onderonsie waar sy ook as fotograaf haar merk maak.
Tydens Bergvlam se toekenningsaand is sy as die junior redenaar van die jaar aangewys en het sy ook die trofee vir gr. 10 se mees veelsydige leerder ontvang. Boonop het sy ‘n merietetoekenning vir Afrikaans met ‘n gemiddeld bo 80 % ontvang.
Vroeër vanjaar tydens die nasionale eisteddfod is sy as die kategoriewenner in Engels: prosa aangewys en het sy algeheel sewende in Mpumalanga geëindig.
“Alle eer aan God. Ek is geseënd met ongelooflike talente.”

Erize, wat vanjaar aan Mnr. en Mej. Bergvlam deelgeneem het, het daardie aand net besef dat wen nie alles is nie.
“Daar is ook tye wat ek minderwaardig voel. ‘n Dag voor die tyd was ‘n vriendin van my wat ook aan die kompetisie deelgeneem het in trane. Ons het saamgesit en bid en tydens die gala-aand wen sy toe Mej. Fotogenies. Ek sê altyd geloof is ‘n werkwoord.”
Erize maak ook eersdaags haar debuut op Radio Laeveld waar sy gevra is om deel van ‘n tienerprogram te wees.
“Tussendeur haar besige program, neem sy nog klavierlesse ook. Sy is ywerig en wanneer sy iets aanpak, gaan sy voluit. Sy is kos vir enigeen se siel. Ek kan sien dat sy ‘n verskil in elkeen waarmee sy in aanraking kom, se lewe maak,” het haar ma Charmaine gesê.

