Strawwe kompetisie breek nie Robbies se spoed
Hoërskool Rob Ferreira het die afgelope naweek met 'n allemintige 192 atlete aan die eerste groot plaaslike atletiekbyeenkoms van die jaar deelgeneem. "Die feit dat Rob 192 atlete na die byeenkoms geneem het, is voorwaar 'n merkwaardige prestasie, veral as daar in ag geneem word dat die skool minder as 900 leerders groot is."

“Rob gaan deur die loop van die volgende vier weke aan vier groot byeenkomste deelneem en is van plan om vier atlete vir elke enkele item in te skryf,” het die skool se Liezel Lüneburg gesê.
“Soos in die verlede is dié atletiekspan vir seker een om dop te hou en belowe die 2019-seisoen om talle uitstekende prestasies op te lewer,” het sy gesê.

Ses topatletiek-skole het aan die byeenkoms by Hoërskool Nelspruit deelgeneem – Prestige College, beide Afrikaanse Hoër Seuns- en Meisiesskole, Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen en plaaslike hoërskole Rob, Nelspruit en Lowveld High.
Die kompetisie, met Prestige College en Affies as die topatletiekskole in Gauteng, was straf, maar talle Robbies het uitgeblik – veral die naellopers en verspringatlete.

Nkosana Mpinga het sommer vroeg in die seisoen reeds die 100 m vir seuns o/19 in 10,75 sek en die 200 m in 21,94 sek afgelê. Vuyo Ndlovu (o/17) het ‘n kortkop agter sy ouer spanmaat geëindig en dieselfde items in ‘n fantastiese 10,84 en 22,17 sek onderskeidelik kafgedraf.
LEES OOK: Curro se seniors presteer tydens interhuis
Lowazi Mogodiri, ‘n lid van die o/16-seunspan het in beide die 100 m en 200 m uitgeblink. Sy beste item van die dag was egter verspring – hy het gewen met ‘n uitsonderlike sprong van 6,73 m wat hom 946 punte op die ABSA-tabel besorg het.
Spanmaat Junior Mondlane (o/16) het ‘n afstand van 6,57 m gespring terwyl Thapelo Nkuna (o/17) 6,70 m ver gespring het. Thapelo het ook in die driesprong presteer met ‘n afstand van 13,79 m.
LEES OOK: Nellies pronk met die jaar se beste sportpresteerders
Die Robbies het die beste vir laaste gehou en die o/19-seuns het die skare op hul voete gehad met die 4×100 m-afloswedloop. Rob het die item met ‘n uitstekende 43,26 s gewen met Affies en Prestige College kort op hul hakke.
Die volledige dekking oor die byeenkoms sal in Vrydag se Laevelder verskyn.
